Olufuko ’n ‘demokratiese reg’

Henriette Lamprecht
Tuyeimo Haidula – Die voormalige staatshoof, Sam Nujoma, sê dit is belangrik dat kerke nie hul lidmate daarvan weerhou om aan die Olufuko- kulturele fees deel te neem nie, omdat dit hul demokratiese reg is.

Nujoma sê kerkleiers moenie hulle lidmate daarvan weerhou om hul kultuur te beoefen nie, omdat die Grondwet as oppergesag van die land dié vryheid aan elke burger bied.

Volgens hom word sy stellings ondersteun deur ’n studie wat deur die Outapi-dorpsraad in samewerking met die Universiteit van Namibië (Unam) se veeldoelige navorsingsentrum (MRC) uitgevoer is. Die omvattende sosio-kulturele studie fokus op Olufuko voor en ná kolonialisme.

“Die studie fokus spesifiek op Ombalantu met spesiale verwysing na die historiese, godsdienstige, sowel as die regsformulering van familieverhoudings. Dit sluit in ’n vergelykende ontleding van die impak van Christenskap op soortgelyke praktyke onder ander tradisionele gemeenskappe in Namibië en oraloor Afrika,” het die voormalige staatshoof verduidelik.

Verskeie teenstanders het die fees oor die jare gekritiseer en verwerp. Ten spyte van die kritiek, groei dit egter jaarliks en word dit vanjaar vir die negende keer aangebied ná ’n onderbreking van drie jaar weens die Covid-19-pandemie.

“Soos ons hierdie geleentheid vier, moet ons ook ondersoek instel hoekom dié kulturele fees tydens die laaste agt keer wat dit aangebied is, oorleef en floreer. Dit is omdat die hede net so belangrik soos die verlede is. Die fees bly ’n simbool van voortreflikheid en ’n belangrike platform om ons kulturele waardes, norme en erfenis te handhaaf,” het Nujoma gesê.

Volgens hom is dit ’n “ope geheim” dat dié wat nie waarde heg aan hul kultuur nie en nie hul eie tradisies respekteer nie, maklik beïnvloed word deur ander om vreemde waardes te aanvaar en neer te kyk op hul eie.

Soos Namibië voortgaan om die verwante uitdagings van ongelykheid, werkloosheid en armoede in die samelewing te takel, kyk inwoners volgens Nujoma na onderwys, kuns en kultuur as die mees doeltreffende maniere om die siklus van onderontwikkeling en ontneming te breek.

“Vir die Olufuko-kultuurfees om vir die negende keer aangebied te word, moes daar iets spesiaal gewees het wat maak dat dit goed doen. My raaiskoot is dat dit fokus op kinders wat goed opgevoed is, sowel as hul vordering sodat hulle beter in die behoeftes van die groter gemeenskap kan voorsien.”

Die fees vind vanjaar vanaf 1 tot 7 Julie plaas, met meer as 20 meisies wat aan dié oorgangsrite deelneem.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer