Omajovas in oorvloed

Tanja Bause
Peter Schonecke van die plaas Ombona naby Kalkfeld het vanjaar al meer as 500 omajovas op sy plaas geoes.

“Die omstandighede is perfek. Ons het baie reën gehad. Die son skyn in die dag en in die namiddag begin die reën. Ek het in Januarie 356 geoes en tot dusver in Februarie net oor die 200. Dit is net dié wat ek geoes het, ek het geen idee hoeveel my werkers in die veld geoes het of my seun wanneer hy van die plaas af huis toe ry nie,” het hy gesê.

Volgens hom staan daar tans talle mense langs die pad tussen Otjiwarongo en Kalkfeld met vars omajovas.

“Die sampioene word vars geoes en elke persoon staan met 15 tot 20 sampioene langs die pad. Hulle gaan nog ’n wyle daar wees. Ek het al een jaar tot 28 April geoes.”

OMAJOVA

Meeste Namibiërs ken die termietspesie Macrotermes michaelseni.

Nadat dit gereën het, sien ’n mens duisende van dié vlieënde termiete wat die termiethope verlaat om nuwe kolonies te stig.

Dit is op dié termiethope waar die gesogte delikatesse ná goeie reën in die noorde van die land groei.

Die sampioen groei nie op alle termiethope nie; dit kom slegs in die sentrale en noordelike dele van die land voor.

Die termiete het ’n simbiotiese verhouding met die swam Termitomyces. Die termiete verbou die swamme in ’n swamtuin, bestaande uit ’n paar honderd “kamers” waarin swamme groei, strukture wat uit gekoude gras en hout gebou is en waarop swamspore versprei is.

Anders as die swamme wat deur blaarsnyermiere gekweek word, wat die mierkolonie as voedsel gebruik, help die Termitomyces-kultuur in die termietnes om sellulose en lignien in ’n voedsamer kompos af te breek wat as die termiete se voedingsbron dien.

Die swamtuin is dus ’n soort spysverteringstelsel buite die liggaam.

Vars materiaal word aan die bokant van die swamkamer bygevoeg terwyl die termiete die verteerde materiaal aan die onderkant eet. Die simbiose bied optimale toestande vir albei – ’n veilige hawe vir die swamme en vooraf verteerde voedsel vir die termiete.

Wanneer dit genoeg reën, breek die omajovas deur die grond. Wanneer dít gebeur, is die paddastoel so groot soos ’n man se vuis. Sodra die paddastoel begin oopmaak, kan dit spoedig ’n deursnee van tot 30 cm bereik en byna ’n kilogram weeg.

Die wortel vernou afwaarts tot by sy oorsprong in die nes. Dit is belangrik dat mense – wanneer die omajovas geoes word – altyd ’n stuk van die wortel vir die termiete agterlaat en verseker dat dit volgende jaar weer groei.

Om omajovas kommersieel te verbou, is nie lewensvatbaar nie, en dit kan ook nie in winkels verkoop word nie.

Plaaslike inwoners verkoop dit langs die pad wanneer dit in seisoen is om ’n ekstra inkomste te verdien.

Omajovas het ’n unieke smaak en ’n ferm tekstuur. Dit word dikwels soos ’n biefstuk of in krummels soos ’n schnitzel in botter gebraai.

Die stam word in stukke gesny en in sop of risotto gebruik.

Hoe ook al, die omajova is op sy beste met bietjie sout en peper in botter gebraai.

Dit is nie net mense wat dié sampioen as ’n delikatesse beskou nie. Beeste en bokke is ook gek oor dié seisoenale bederf.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!