TIRED: Residents of Dordabis are calling for governmental intervention. 
Photo: Jemimah Ndebele
TIRED: Residents of Dordabis are calling for governmental intervention. Photo: Jemimah Ndebele

Ons is moeg, sê Dordabis-inwoners

Henriette Lamprecht
Jemimah Ndebele - Die meeste van Dordabis, sowat 80 km oos van Windhoek, se inwoners word “gedwing om in arm omstandighede te woon”.

Geteister deur ’n gebrek aan werksgeleenthede, sanitasie en grond, is die gemeenskap desperaat vir die regering om in te gryp om hul lewenstandaarde te verbeter.

“Ons jongmense doen niks nie en sit heeldag by die sjebeen. Daar is geen opleidingsgeriewe om hulle vaardighede te leer nie. Ons is moeg. Ons is omring deur private eiendom vol vuurmaakhout wat ons nie mag gebruik nie,” sê die 78-jarige gemeenskapsverteenwoordiger Alfeus !Auxab tydens ’n besoek aan die nedersetting.

“Die grond wat ons het, is nie groot genoeg om in boerdery- en voedingsbehoeftes van elke huishouding te voorsien nie.”

Volgens hom het inwoners meer grond nodig en hy het gevolglik ’n beroep op die regering gedoen om die omliggende private grond te koop en dit in hervestigingsplase te omskep.

Die nedersetting wat die tuiste van sowat 2 000 mense is, val onder die Windhoek landelike-kiesafdeling.

Dit het net ’n poskantoor, kliniek, polisiekantoor en een primêre skool. Leerlinge moet noodgedwonge in koshuise in Windhoek, Rehoboth, Hoachanas, Groot Aub of Leonardsville gaan bly om hul skoolopleiding voort te sit.

“Ons is ongeletterd, ons het niks meer as ’n graad 7-rapport nie. Ons wil die kennis en vaardighede hê wat ons lewensgehalte sowel as dié van ons kinders sal verbeter. Ons is moeg daarvoor om net op te staan en niks anders het om te doen as om by die kroeg te sit en te gaan slaap wanneer die son sak nie,” sê ’n 28-jarige ma van drie wat verkies om anoniem te bly.

“Soms sit jy net by die huis en dink daaraan om jouself dood te maak, want daar is niks om te doen nie.

“Om te drink, te rook en rond te slaap, niks help nie. Politici kom net met verkiesingstyd hiernatoe en maak beloftes aan ons. Ons wil resultate sien,” het sy gesê.

Sy is bang om in gemeenskapsvergaderings op te staan en raadslede te bevraagteken uit vrees vir viktimisering.

“Wanneer ons iets sê, veral jongmense, voel die raadslede ons respekteer hulle nie en kritiseer ons daaroor. Dit is aaklig.”

Volgens haar wend baie van die jong meisies in die nedersetting hulle tot sekswerk en slaap by mans wat uit Windhoek, Rehoboth en Gobabis die nedersetting kom besoek.

Kommentaar van die Windhoek landelike-kiesafdeling was teen druktyd nie beskikbaar nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer