PAS IN: Kandidaatmeester Moyo wen skaaktoernooi
Die 2022 Bank Windhoek Kehat Beukes Legacy-skaaktoernooi is vanjaar weer in Swakopmund aangebied nadat dit vir twee jaar in Windhoek gehou moes word weens Covid-19. Die Namibië Skaakfederasie het die geleentheid die afgelope Saterdag en Sondag (17 en 18 Desember) by die Swakopmund Munisipale Opleidingsentrum aangebied. Die kompetisie het plaaslike en internasionale skaakentoesiaste en -spelers gelok wat oor nege rondtes om top-eerbewyse meegeding het. Elke rondte het 50 minute geduur, en die spelers het volgens die Wêreldskaakfederasie-reëls deelgeneem. Daar was ook buitelandse spelers, hoofsaaklik van Zimbabwe en die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK). Baie plaaslike spelers het ook uit dorpe soos Grootfontein, Ongwediva en Windhoek gereis om aan die toernooi deel te neem. Kandidaatmeester Dion Moyo het met die topposisie weggestap nadat hy sewe rondtes gewen het en in twee gelykop gespeel het. Die tweede plek het aan Jossy Uapingene gegaan, en in die derde plek was Goodwill Khoa. Die Skaakfederasie het Bank Windhoek bedank vir sy voortgesette borgskap vir hierdie geleentheid. Die Bank Windhoek Kehat Beukes Legacy-skaaktoernooi is die oudste in die land wat dateer uit 1994.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie