Petrol moet water ‘suiwer’

Tenks by skool droog
Buiten vir die ondraaglike stank het die klein kinders in die nedersetting byna elke dag diarree.
Tuyeimo Haidula,Enzo Amuele
Tuyeimo Haidula en Enzo Amuele - Die water waarvan die inwoners van die Onamatanga-nedersetting in die Tsandi-distrik in die Omusatistreek afhanklik is, stink en is vol alge.

Die nedersetting het net een waterbron vir sy sowat 500 inwoners – ’n boorgat wat jare gelede gegrawe is, en wat die afgelope twee jaar probleme gee en meer as 10 km vanaf hul huise geleë is.

Volgens van die inwoners gooi hulle soms petrol of diesel in die stink water in ’n poging om dit te suiwer. Hulle is nie bekommerd oor die manier waarop die water gesuiwer word nie, “omdat water nie in diesel of motorolie oplos nie”.

Kaloete Sheengala, die nedersetting se hoofman, sê vroue en meisies gaan haal gereeld water by die boorgat wat sowat ’n uur en ’n half se stap is. Volgens hom dra die inwoners die 25 liter-houers op hul koppe.

“Ons weet die water staan, maar daar is niks anders wat ons kan doen nie,” het hy gesê.

Sheengela se grootste kommer is die klein kinders in die nedersetting wat die meeste as gevolg van die vuil water ly.

“Buiten vir die ondraaglike reuk het die klein kinders byna elke dag diarree. Hulle het gedurig mediese sorg nodig. Dit is beter wanneer ons hulp kry van die skool se watertenks. Daardie water kom egter met moeite, dit kan tot ses maande vat,” sê die hoofman.

Tydens ’n besoek aan die nedersetting het die twee tenks by die skool nie ’n druppel water in gehad nie.

Een van die inwoners van die gemarginaliseerde gemeenskap, Aukongo Ishakena, sê die ministerie van landbou, water en grondhervorming het deur die Ruacana-kiesafdeling se raadslid, Andreas Shintama, laat weet hulle moet ’n sloot vir waterpype grawe om sodoende draagbare water te kry, maar twee jaar later is steeds niks gedoen nie.

“Ons kry swaar. Hulle het gelieg en vir ons gesê om te grawe vir waterpype. Twee keer, maar tot by die dorp is daar ’n groot waterskaarste," sê Ishakena. Volgens hom het Shintama hulle in die steek gelaat.

“Ons hoor maar net van die voordele wat onafhanklikwording vir ander meegebring het. Ons is nie vry nie. As ons sê die land is onafhanklik, moet ons dit met ons eie twee oë kan sien en aan die voordele kan raak wat daarmee saamkom.

“Die manier hoe ons in die koloniale tyd geleef het, is dieselfde as nou. Die water wat ons in die apartheidstydperk gedrink het toe mense geskei is, is dieselfde water wat ons nou drink.

“Die regering het nie veel vir ons gedoen nie. Hulle het skole gebou, maar sonder voldoende geriewe,” het hy gesê.

Shintama het by navraag gesê hy het Onamatanga reeds drie keer vanjaar besoek. Volgens hom is daar ’n plan om boorgate te boor en ook waterpunte vir diere aan te bring. Inwoners wat water na hul huise wil herlei, sal ook glo die geleentheid daarvoor kry.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer