Rehoboth wys nuwe burgemeester aan

Enrico Junius steeds in intensiewe sorg
Ná twee jaar as voorsitter van die Rehoboth-dorpsraad se besturende komitee, is Amanda Groenewaldt gerat om die leisels as burgemeester oor te neem.
Iréne-Mari van der Walt
Rehoboth het Woensdag ’n nuwe burgemeester verkies.

Dié eer het die Landless People’s Movement-lid, Amanda Ludmilla Groenewaldt, toegeval.

Dit volg ná maande se ontevredenheid oor die onderbreking van dienste op die dorp en oudburgemeester Enrico (Toes) Junius wat steeds in ’n intensiewesorgeenheid in Suid-Afrika behandel word nadat hy in September tydens die bestryding van ’n veldbrand ernstig beseer is.

Groenewaldt het die afgelope twee jaar as die voorsitter van dié dorp se besturende komitee gedien. Sy sê haar pa, Karl Jacob Freygang, ook bekend as Boela, was die eerste burgemeester van Rehoboth.

Groenewaldt sê sy het groot planne vir die dorp.

“Ek wil hê die dorp moet vir homself kan sorg. Ons het baie water in Rehoboth en ek wil dié waterbronne ontwikkel sodat ons nie so afhanklik van NamWater hoef te wees nie. Ons is ook bevoorreg om grond in die dorp te hê, so ek hoop om vir ons mense grond te gee sodat elkeen ’n dak oor hul koppe kan kry,” het sy gesê.

Sy glo ook beleggers kan gelok word deur die dorp op te knap en Rehoboth se hulpbronne te benut.

“Daar is baie toerismegeleenthede in Rehoboth. Die warmwaterbronne en die Acacia-woud kan ontwikkel word. Ek wil hê ons moet fokus op die bewaring van ons omgewing sodat dit vir besoekers aanloklik kan wees.

“Namibië het nie fabrieke nie, maar ons het grond vir fabrieke op Rehoboth,” het sy gesê.

Groenewaldt het ook toekomsplanne om die dorp se landbousektor op te hef.

“Rehoboth is in ’n landbou-omgewing geleë. Meeste van die mense in ons omgewing is boere.”

UITDAGINGS

Hoewel daar geen tekort aan hulpbronne op Rehoboth is nie, sê Groenewaldt die dorp gaan steeds gebuk onder skuld.

“Ons gemeenskap skuld baie en ons raad het hierdie skuld geërf. As ons ’n kultuur op ons dorp kan vestig om rekeninge te betaal, kan ons van daardie skuld ontslae raak,” het sy gesê.

Groenewaldt sê sy wil die Rehoboth-gemeenskap aanmoedig om die dorp netjies te hou.

“Ek wil graag die mense leer om die dorp op te pas en skoon te hou.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!