No Image Caption

See eis twee 11-jariges

Liggame nog nie gevind
Mense word aangeraai om eerder by aangewese strande onder die wakende oog van lewensredders te swem.
Henriette Lamprecht
Nikanor Nangolo - 'n Tragedie het die naweek op Hentiesbaai afgespeel toe twee elfjarige meisies op die dorp vermoedelik in die see by die vakansiedorp verdrink het. Die twee meisies, Hilia Rashmie Brockerhoff en Mary-anne Mimie Bock, het Vrydag sonder volwasse toesig saam met hul vriende in die see gaan swem. Volgens die polisie se bevelvoerder vir gemeenskapsdienste in die Erongostreek, insp. Ileni Shapumba, het die voorval tussen 14:00 en 15:00 gebeur. Die meisies wie se liggame teen druktyd nog nie gevind is nie, het volgens Shapumba hul huise tussen 12:00 en 13:00 verlaat om saam met vriende strand toe te gaan.

Na bewering het 'n sterk brander hulle ingetrek terwyl die meisies saam met die ander kinders in die water was. Die res van die kinders kon daarin slaag om weer veilig op die strand te kom. Lede van die polisie op Hentiesbaai, die families en ook gemeenskapslede soek sedertdien onverpoos na die twee meisies se liggame.

Shapumba het 'n beroep op die publiek gedoen om te alle tye waaksaam op die strand te wees.

"Ons betuig ons simpatie met die families en die geraakte gemeenskap van Hentiesbaai. Ons wil nie dit wat gebeur het gebruik om 'n punt te maak nie, maar ons doen 'n beroep op gemeenskappe om te alle tye waaksaam te wees. Ons moedig mense aan om nie in die see te swem nie, maar indien wel, dit by aangewese plekke onder die toesig van lewensredders te doen," het hy gemaan.

Hy het familie en vriende ook gemaan om op die uitkyk vir mekaar te wees wanneer hulle op die strand is en gewaarsku "mense moenie toegelaat word om te swem as hulle gedrink het nie".

"Ons doen ook 'n sterk beroep dat kinders net strand toe onder die toesig van hul ouers mag gaan."

In twee onverwante voorvalle ook deel van die jongste misdaadverslag is twee regeringskantore deur boewe geteiken. In die eerste geval is by die kantoor van die regbank by die hoërhof in Windhoek ingebreek en toegang deur 'n venster tot die argiewe gevind waar hofrekords gehou word. 'n Rekenaarboks met 'n waarde van N$11 420 is gebuit waarop rekords van die hoërhof gestoor word. In die tweede voorval is 'n rekenaarboks en twee monitors uit die ministerie van finansies se Fiscus-gebou gesteel. Die verdagte is omstreeks 01:37 op kringtelevisie vasgevang waar hy toegang tot die gebou deur 'n skuifvenster gekry het. Die ondersoek na beide voorvalle duur voort en niemand is nog in hegtenis geneem nie. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!