Skool ploeg terug met groentetuin
Stampriet-gemeenskap vind baat
Die skoolhoof van die Gekombineerde Skool Stampriet sê die skool se groentetuin het 'n merkwaardige verandering vir die skool en die gemeenskap meegebring.
Die vestiging van ’n groentetuin by die skool het ’n beduidende verandering in die skool meegebring.
So sê die Gekombineerde Skool Stampriet se skoolhoof, Festus Toromba.
“Skoolbywoning het aansienlik verbeter; leerlinge bly nou die hele dag by die skool. Voorheen was ons bywoningsyfer power. Selfs die leerlinge se gedrag het baie verbeter – voorheen het leerlinge mekaar se kos afgevat, maar dit is nou iets van die verlede,” sê hy.
’n Groep leerlinge sê hulle mis die etes wat hulle by die skool kry oor naweke en vakansietye.
Die skool is ’n begunstigde van die Wêreldvoedselprogram (WFP) se geïntegreerde voedselprojek wat skole en klinieke help om groentetuine te vestig en sodoende hul diëte aan te vul.
“As jy kyk na die sosioëkonomiese status van meeste van ons ouers, kom baie leerlinge uit omstandighede waar hulle nie soggens ontbyt eet voor hulle skool toe kom nie. Dit beteken hulle moet op ’n honger maag leer,” sê hy en voeg by hulle het ook ’n verbetering in leerlinge se punte opgemerk.
Alma Goases, ’n ouer wat as ’n vrywilliger help om die etes voor te berei, sê ’n groot las is van haar skouers af aangesien haar kind ’n gebalanseerde ete by die skool kry.
“Ek hoef nie meer so bekommerd te wees nie, want ek weet my kind kan ten minste iets by die skool kry,” sê sy.
Die vrugte en groente wat by die skool geoes word, vul die 474 leerlinge te diëte aan en bied die leerlinge meer as die mieliepap wat die ministerie van onderwys, kuns en kultuur verskaf, sê Toromba.
Die skool spog met botterskorsies, beet, spinasie, uie en waatlemoen asook eiers wat broodnodige nutriënte en proteïene aan die leerlinge bied.
Buiten die aanvulling van leerlinge se diëte, sê Toromba dat leerlinge wat landbou as ’n vak het, leer uit die praktiese werk wat hulle in die tuin verrig.
Die projekkoördineerder, Buruxa Amutse, sê leerlinge kom klop gereeld by hom aan vir raad met hul landbou-huiswerk.
Elizar Tjihenda, ’n graad 8-leerling, sê hy geniet die waatlemoene terwyl Shamila Geibes sê sy wil baie graag tamaties in die tuin groei.
Toromba sê ’n toename in huishoudelike groentetuine in die gemeenskap is ook waargeneem aangesien leerlinge die vaardighede wat hulle by die skool leer ook na hulle ouerhuise neem.
UITDAGINGS, PLANNE
Amutse en Toromba sê die vestiging van die tuin was nie sonder uitdagings nie.
Volgens Toromba sukkel hulle soms met diewe en Amutse sê die botterskorsies het gevrot aangesien daar geen skadunette is nie.
Die skool het sowat drie maande gelede ’n skadunet opgerig om dié kwessie te takel.
Amutse sê ook dat marktoegang ’n struikelblok is.
“Die WFP het vir ons gesê dat baie van dié tuine ’n verlies na die oes ly. Soos nou gaan die kinders binnekort op vakansie en wat word dan van die groente?”
Die skool verkoop tans ’n gedeelte van sy oes om ’n inkomste te genereer waarmee die tuin onderhou kan word. Die oorblywende produkte word aan die kliniek op Stampriet geskenk.
Amutse sê leerlinge het aan die begin nie baie van die kos gehou nie. Hy het egter opgemerk dat die kos sonder enige sout, speserye of olie voorberei word. Nou gebruik hy van die wins wat die tuin genereer om die nodige bestanddele te koop.
Beide sal graag meer volhoubare marktoegang wil hê.
“Ons het ’n paar werkers wat die WFP betaal. As die WFP die werkers aan ons wil oorhandig, sal ons daardie salarisse moet betaal. Daar is ook planne om varke aan te hou en as ons een of twee melkkoeie kan kry om die projek nog ’n hupstoot te gee, sal ons dit ook graag wil doen,” sê Toromba.
Daar is ook planne om vrugtebome om die tuin te plant. Dit sal die tuin teen die wind beskerm en dit ook moontlik maak om vrugte aan leerlinge te bied.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie