Staptog ter ere van Nujoma

Iréne-Mari van der Walt
Verskeie organisasies sal Saterdag kragte saamsnoer om ’n staptog vanaf Swakopmund na Walvisbaai aan te bied ter nagedagtenis aan wyle stigterspresident, Sam Nujoma.

Die Rejuvenation Youth Program (RYP), die Vereniging vir Christen-studente “Los Donkies” en die Swakopmund Rynse kerk se ondersteuningsgroep vir herstelde dwelmgebruikers beplan om die oggend sesuur by die Swakopmund-brug bymekaar te kom vir die staptog.

“Die staptog het ten doel om dr. Nujoma se onwrikbare toewyding tot onderwys en jeugbemagtiging te vier, in ooreenstemming met die RYP se missie vir die bewusmaking van dwelmmisbruik en onderrig vir almal.

“Dr. Nujoma se nalatenskap inspireer jong Namibiërs om akademiese uitnemendheid en persoonlike groei na te streef. Dwelmmisbruik is ’n beduidende bydraer tot skoolverlatingsyfers onder jeugdiges,” luidens ’n verklaring van die RYP.

“Dwelmverslawing het algemeen geword, veral onder kinders. As iets nie gedoen word nie, weet ek nie hoe die toekomstige generasies gaan lyk nie.

“Wanneer ek na vandag se kinders kyk, dink ek aan my agteragteragter-kleinkinders, maar ek weet nie hoe dit met daardie generasie gaan wees nie," sê Tinah Rajaal van die RYP.

“Ek dink nie ons besef hoe groot die probleem werklik is nie en ek dink nie mense besef ’n kind se omstandighede wanneer hulle ’n kind op straat sien nie,” sê sy.

Rajaal, wat voorheen ’n maatskaplike werker was, sê diegene wat hierdie kinders wil help, moet eers na die kind self uitreik en vra of hulle hulp sal aanvaar.

“As jy nie self by die kind wil betrokke raak nie, maak kontak met ’n welsynsorganisasie of die ministerie,” sê sy.

Oor die wanvoorstellings wat aan verslawing gekoppel word, sê sy: “Ek dink nie ons besef dat verslawing ’n siekte is nie – dis hoekom dit onder die ministerie van gesondheid val.

“En hoeveel misdaad word gepleeg as gevolg van verslawing? Baie mense steel om die goedere weer te verkoop om hul verslawing te onderhou,” sê sy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer