Stene van hoop

Henriette Lamprecht
Die oomblik toe die twee Diergaard-susters van Rehoboth, Michelle (41) en Anthea (39), klaar die voorlegging van hul plan van hoop en herwinning aan die dorpsraad aangebied het, is hulle staande toegejuig.

Steeds het dié twee inspirerende vroue wat tans werkloos is, vir die volgende sewe maande elke Maandag weer aan die dorpsraad se deur gaan klop totdat hulle uiteindelik ’n amptelike brief gekry het wat bevestig hulle kry twee hektaar grond om hul projek mee af te skop met dien verstande hulle kry beleggings.

Hul konstruksiemaatskappy, JMAD Investments, gebruik bourommel, rioolwater en sement om bakstene te vervaardig.

Hul eerste projek, ’n toiletgebou, is tans in aanbou op ’n plot buite Rehoboth wat aan Karel Cloete behoort, vertel Michelle.

’n Groot sementvloer wat by ’n besigheid op die dorp “uitgegrou” is, is deur Michelle en Anthea “met tienpondhamers fyngekap”, terwyl sand fyn gesif is. Die rioolwater moes hulle met twee 200 liter-dromme aanry.

“Ons herwin alles weer en dis ’n groot dryfkrag vir ons besigheid. Ons wil nuttelose goed herwin en dit in bruikbare items soos stene omskep.

“Rioolwater is een van die hoofbestanddele om ’n goedkoop, innoverende en omgewingsvriendelike baksteen te maak. Saam met bourommel maak ons ’n baksteen met geen bygevoegde vars water of kleisand nie en gebruik minimale sement,” vertel Michelle.

Sy vertel trots hul eerste baksteen wat getoets is sonder dat al die bestanddele “presies reg” gewerk het, was ook sterker as die normale baksteen.

Volgens Michelle wat soos haar suster ’n gebore Rehobother is, sukkel die dorp met ontwikkeling, ’n gebrek aan toerusting en mannekrag. Maar met die krag van dié twee vroue se droom vir die dorp en sy mense, hoop Anthea en Michelle om rioolwater te herwin om van sportgronde nat te lei tot gemeenskapstuine aan te lê wat weer vir iemand ’n inkomste kan bring.

“Ons bejaardes is so vol kennis. Hulle kan geld verdien deur hul kennis en vaardighede vir indiensopleiding te deel. Ons almal is nie slim vir die boeke nie.”

Ook die jong mense op die dorp word by Anthea en Michelle se droom betrek.

“Mense kyk kinders se ‘skills’ mis; nie almal is slim nie. Die vroue en die jeug is vir ons baie belangrik. Vroumense dra die beste ‘skills’ oor aan kinders”.

Een vrou wat hul ten volle ondersteun, is die dorp se burgemeester, Amanda Groenewaldt.

“Dis voorwaar ’n waardige storie. Ek staan bankvas agter hulle.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!