Swakop se Sound Garden veg om sy voortbestaan
Swakopmund se Sound Garden, ’n opelugmusiekvenue, bly steeds gesluit en sukkel om sy deure te heropen, nadat ’n munisipale bevel sy bedrywighede gestaak het weens klagtes oor geraas wat van naburige inwoners ontvang is.
Nadat die venue gedurende die Covid-19-pandemie oopgemaak het, het Sound Garden deel van Swakopmund se kulturele en vermaaklikheidstoneel geword.
Die venue, bekend vir musiekoptredes deur internasionale kunstenaars en lewendige sosiale atmosfeer, het tot onlangs beide plaaslike inwoners en toeriste getrek wat vermaak gesoek het in ’n dorp wat dikwels beskryf word as ’n plek met ’n gebrek aan naglewe.
Die Swakopmund-munisipaliteit het egter aan die begin van Maart die venue se sluiting beveel ná verskeie klagtes van omliggende inwoners ontvang is oor geraasbesoedeling.
Ondanks ’n groot belegging in maatreëls om die geraas te beperk (soundproofing), het Sound Garden nog nie toestemming gekry om te heropen nie. Die bestuur bly egter hoopvol dat die venue toegelaat sal word om bedrywighede te hervat ná ’n munisipale verhoor wat vir 28 Maart geskeduleer is.
Die sluiting het nie net die besigheid self ’n knou toegedien nie, maar ook plaaslike indiensneming en kunstenaars wat daarop staatgemaak het om by die venue op te tree.
Daar is ook groot kommer oor die impak op werknemers en die breër gemeenskap. Die mense wat by Sound Garden werk sluit kelners, kroegmanne en skoonmakers in – altesaam sowat 15 personeellede – wat van Sound Garden afhanklik is vir hul inkomste.
Daar is plaaslike kunstenaars wat hierdie platform nodig het vir blootstelling en nou het hulle daardie geleentheid verloor.
Toerleiers en -operateurs, asook sake-eienaars het ook hul kommer uitgespreek oor die rol wat Sound Garden as toeriste-aantreklikheid speel.
Oliver Pieters het die venue se bydrae tot die aantrekkingskrag van Swakopmund as vakansiebestemming benadruk.
“Ek het Sound Garden al dosyne kere saam met gaste en personeel besoek en die musiek was nog nooit oorverdowend hard nie. Boonop stop dit stiptelik om 22:00.
“Dit is onredelik om hierdie besigheid uit te sonder terwyl ons dorp groter probleme met geraasbesoedeling het, soos byvoorbeeld vragmotors, en roekelose motorbestuurders,” het hy uitgewys.
In reaksie op die sluiting het die eienaar, Drik Redman, ’n klagskrif getiteld “Save Sound Garden Swakopmund” van stapel gestuur, wat binne ’n paar dae 2 2000 handtekeninge gewerf het.
Die klagskrif het verskeie punte ter verdediging van die venue geopper en verder aangedui dat Sound Garden ’n gesinsvriendelike besigheid is wat streng by geraasregulasies hou, nie bydra tot openbare wanorde nie en die dorp se ekonomie en kulturele landskap beduidend bevoordeel.
Redman het in die klagskrif beklemtoon dat indien Sound Garden sou sluit, dit ’n groot verlies vir die dorp sal wees.
“Sound Garden het deel van Swakopmund se identiteit geword en dit sal ’n groot verlies vir Swakopmund en Namibië wees as ons hierdie venue sou verloor,” het hy geskryf.
FRUSTRASIE
Hoewel talle inwoners en besoekers hulself agter Sound Garden geskaar het, stem ander saam dat die bedrywighede by Sound Garden die stilte en vrede in hul woonbuurt versteur.
Leo Visser, ’n inwoner het sy frustrasie oor die voordurende versteuring van die stilte uitgespreek.
“Ons wil nie partytjies en geraasbesoedeling in ons woonbuurt hoor nie. Mense word dronk, hulle raas en veroorsaak laatnag rusverstoring. Ons verdien ook rus en vrede,” het hy opgemerk.
Anja Van Wijk het hierdie besware egter afgewys en gesê: “Swakopmund is ’n toeristedorp, nie ’n aftreeoord nie. As jy volkome stilte wil hê, trek na die buitewyke van die dorp.”
Riaan Smit het ook daarop gewys dat die gebied vir vermaak en toerisme gesoneer is:
“Mense wat huise in ’n kommersiële sone koop, moes geweet het waarvoor hulle hul inlaat.
“Swakopmund het naglewe soos by Sound Garden broodnodig,” het hy aangevoer.
Ondanks die tydelike sluiting is die bestuur van Sound Garden vasbeslote om te veg om die venue oop te hou. In ’n poging om die regskoste en salarisse van die personeel te dek, reël die bestuur ’n Spoegwolf-konsert op 4 April by die Swakopmund-stadsaal.
Sound Garden se jongste plasing op sosiale media doen ’n beroep op hul ondersteuners om betrokke te bly by hul stryd: “Ons is steeds gesluit weens die klagtes van ’n sekere deel van die gemeenskap. Die volgende dorpsraadvergadering vind op 28 Maart plaas, hopelik sal ons dan goeie nuus ontvang. As jy ons graag wil ondersteun, koop asseblief kaartjies vir ons Spoegwolf-konsert.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie