Zonika Loots (12) van Walvisbaai. Foto verskaf
Zonika Loots (12) van Walvisbaai. Foto verskaf

Twaalfjarige hoop op normale lewe

Tanja Bause
“In die stadium van my lewe voel ek nie baie lekker nie, want my been pyn die heeltyd erg.

“Ek sal baie bly wees as ek weer soos enige normale 12-jarige met my vriende kan speel, fietsry en swem. Om net weer my lewe as ’n 12-jarige te geniet,” het Zonika Loots (12) van Walvisbaai gesê.

Zonika het ’n heuptoestand waar die heupbeen en die dybeen (femur) by sommige adolessente nie behoorlik verbind is nie (SCFE). In hierdie toestand is daar ’n verskuiwing by die boonste deel van die femur, wat ’n verswakte heupgewrig veroorsaak en lei tot pyn, styfheid en onstabiliteit in die geaffekteerde heup. Die toestand ontwikkel gewoonlik geleidelik met verloop van tyd.

Volgens haar ma, Charlene Briede, het Zonika rondom 17 Desember verlede jaar van ’n pyn in haar been begin kla.

“Ek het nie medies nie en gedink dit is gewone groeipyne en dit so behandel. Ek het gedurende Covid-19 in die hospitaal gewerk en weet dat ’n kind nie met ’n gebreekte been of heup kan rondloop nie.”

Zonika kon aan die begin van Januarie nie haar been reguit maak nie en Charlene het ’n doktersafspraak gemaak en die dokter het haar vir X-strale gestuur.

Die dokter het na die X-strale gekyk. Hy het gedink haar heup is gebreek en dat sy ’n noodoperasie moes ondergaan.

“Ons het na die Katutura-hospitaal in Windhoek gery aangesien ons nie medies het nie. Zonika kan weens die pyn nie lank staan, sit of lê nie en het na vier ure ’n bed gekry.

“Die dokter het die toestand gegoogle en vir die ouers gesê hulle weet nie wat om met die been te doen nie. Sy het intussen talle pyninspuitings en pille gekry en dit vir ’n kind wat skaars siek geword het.”

Charlene het vir dr. Alex Skinner gekontak en sy het die X-strale vir hom aangestuur.

“Hy het ons gratis gesien. Sy moet ’n operasie kry sodat die been weer reguit kan kom. Zonika sal ook later in haar lewe – wanneer sy nie meer groei nie – ’n heupvervanging moet kry.

“Haar been sal nooit weer dieselfde wees nie, maar ons hoop dat die pyn sal weggaan.”

Skinner het benadruk dat die operasie dringend is, aangesien dit verder kan skuif of die korrektiewe operasie kan bemoeilik. Hy het ook gesê die moontlikheid bestaan dat die ander heup ook kan skuif.

“Ons probeer desperaat om die fondse te kry. Zonika is baie gestres omdat sy as ’n 12-jarige skielik ’n loopraam en krukke moet gebruik om te kan loop.

“Sy kan nooit weer sport beoefen nie. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie, maar die dokter het verduidelik dat sy nie weer normaal sal kan loop nie. Al die geld sal direk vir die uitgawes van die operasie gebruik word.”

“Baie dankie vir elkeen se omgee en ondersteuning. Elke skenking – maak nie saak hoe groot of klein nie – sal help om my lewe te verbeter en ek sê baie dankie,” het Zonika gesê.

Die operasie sal N$75 000 kos.

Mense wat ’n skenking wil maak, kan “Backabuddy” by https://www.backabuddy.co.za/zonika-loots-5502784190302294090 besoek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!