Vier trotseer Engelse Kanaal

'n Uitdaging om geld in te samel vir kinders met spesiale behoeftes het vier vriende aangemoedig om vir liefdadigheid te swem.
Yolanda Nel
’n Klein gebaar en ’n groot hart is soms al wat nodig is om ’n daadwerklike verskil in iemand se lewe te maak; en as jy moontlik ’n kind se lewe kan red, wie sal dan terugdeins?

Dit is presies wat Christopher du Plessis tans doen. Hy samel geld in vir die Ladybug Trust wat kinders met spesiale behoeftes help. Die liefdadigheidsorganisasie het hom genader om deel van hul swemuitdaging te word en hy en drie vriende het die aanbod aanvaar.

“Ons gaan deur die Engelse Kanaal tussen Engeland en Frankryk swem vir bewusmaking,” vertel hy trots.

Om te verseker dat die span aan die uitdaging kan deelneem, is Christopher hard besig om geld in te samel. Hy verkoop die heerlikste sjokolademuffins en is nou al oral bekend as die Muffin Man.

“Die ondersteuning wat ek al van groot besighede in Namibië ontvang het, is ongelooflik. Dit gee my die nodige motivering om aan te gaan om ’n verskil in ’n kind se lewe te maak.”

Die viermanspan bestaan uit Christopher, Roual Spannenberg, John Valentine en Wynand Dreyer. Hulle sal in Julie vanaf Engeland na Frankryk swem.

“Dit is ongeveer 38 kilometer, maar as die stroom jou vat, kan ons tot 42 kilometer swem om die eindbestemming te bereik.”

Hy oefen al sedert November verlede jaar. “Ek swem al baie lank, maar nie professioneel nie, dus is hierdie ’n eerste vir my. Ek is opgewonde.”

Hoewel die koeler weer reeds in Windhoek begin kop uitsteek, is hulle vasbeslote om vroegoggend by die munisipale swembad te gaan oefen.

“Die temperatuur in die Engelse Kanaal is tussen 14 en 16 grade Celsius. Ek hoop vir 17 grade,” lag hy.

Die span se tydgleuf is op 23 Julie om halfvier die oggend.

“Dit kan verander as weerstoestande dit nie toelaat nie.”

Hulle los mekaar af en elke persoon moet vir ’n uur swem voor die volgende persoon kan begin.

“Afhangend van die stroom kan jy vyf kilometer voltooi of, as jy teen die stroom swem, dalk net ’n kilometer. Ons moet net moed hou.”

Christopher lewer elke Maandag en Vrydag muffins af, en dit word die vorige aand vars gebak.

Indien enige iemand ’n bestelling wil plaas, kan Christopher op 081 124 2265 gekontak word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!