Vuur en vlam op die dansvloer

Tanja Bause
“Die lewe is kort, jy moet die beste daarvan maak. As jy iets doen, doen dit voluit en geniet dit. Ons vergeet om te lewe, want ons is vasgevang in ons werk, huishoudelike omstandighede, die swak ekonomie, kos en brandstof wat duurder raak.

“Dans maak jou vry, want so lank as wat die liedjie speel, vergeet jy van enige verantwoordelikhede en probleme; jy is net vry en jy kan net jy wees,” het Aletta Kock (31), die stigter van die Ignite Dance Company, gesê.

Sy het in 2021 met die dansskool begin want sy wou die passie vir dans in ander mense aanvuur, aangesien baie mense van mening is dat hulle nie kan dans nie.

“Daar was nog nooit ’n dag wat ek klasgegee het wat vir my soos werk gevoel het nie. Dans is ’n passie wat diep uit my binneste kom. Dit is ook dieselfde vir my dansers en studente. Dans is soos asemhaal – ons kan nie daarsonder nie.”

Aletta was as kind ’n rabbedoe, maar haar ma wou hê sy moes soos ’n dogtertjie wees en het haar balletlesse laat neem.

“Ek was drie jaar oud toe ek begin dans het. Ek is van ballet moderne dans toe, van daar na kontemporêr en van daar af na Latynse en baldanse toe. Ek het – toe ek die grootmenswêreld betree het – gedink ek gaan nie meer tyd vir dans hê nie. Dit was die twee ongelukkigste jare van my lewe en ek het weer begin dans.”

Aletta daag almal uit wat dink hulle het twee linkervoete om ’n draai by die Ignite Dance Company te maak.

“Neem net die eerste stap en kom na een klas toe. Dans moet lekker wees en jy moet pret hê. Ek kan jou die ingewikkeldste danse en tegnieke leer, maar wanneer gaan jy ooit wals?”

Sy leer ook baie mense wat op trou staan hulle eerste dans.

“Wanneer paartjies na my toe kom met hulle liedjie, dan kyk ek vir hulle en kyk hoe hulle interaksie met mekaar is. Dan luister ek na die lied en begin met die choreografie in my kop. Elke paartjie se dansroetine is net vir hulle. Elke dansroetine is anders. Dit gaan oor hulle en wat hulle uniek en spesiaal maak.”

VUURDANS

Twee jaar gelede het Luca Viglietti by Ignite aangesluit.

“Hy het Windhoek toe getrek en by ons kom aansluit om mense te leer ken; nou is hy my sakevennoot en ons beste vuurdanser.”

Luca het op ’n plaas naby Kamanjab grootgeword en het daar vir die eerste keer ’n video oor ’n vuurdanser gesien.

“Ons internet was baie stadig, maar ek kon ’n paar video’s aflaai en het besluit om myself te leer. Ek het eers sandgevulde sokkies gebruik, maar dit is nogal seer. Ek het toe tennisballe begin gebruik.”

Die twee wou een aand vir ’n opvoering vuurdansers huur, maar hulle was baie duur en terwyl hulle gesels het, het Luca gesê: “Ek doen dit vir ’n pakkie tjips en ’n Coke.”

Hulle het die regte toerusting aangekoop en hy het met twee studente begin klasgee. Die jongste student is Alri Kock (12) en die enigste meisie is Yolanka Staedler (17).

“Die vuur maak ’n geluid wat iets binne jou laat kliek sodra jy dit hoor. Wanneer jy begin om die vuur te draai en jy hoor die geluid, gaan jy in ’n sone in. Jy voel die musiek, die vuur en jy word meegesleur.”

Al die dansers en die vuurdansers kan vir funksies gehuur word.

RAAD

“Vind iets waaroor jy passievol is. Ek gee nie om wat dit is nie – kry net iets. Kry iets want, hoekom lewe ons as ons nie ’n passie het nie? As ons niks het waaroor ons passievol kan wees nie, dan is ons soos hamsters in ’n wiel. Elke dag is dieselfde en niks verander nie. Hoekom lewe jy as jy nie iets passie in jou lewe het nie?”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!