Waar is Thomas se rooi lorrie?

Tanja Bause
’n Rooi drieton-Dodge-lorrie het spoorloos uit die Swakoprivier verdwyn.

Die lorrie het aan wyle Thomas Hansen behoort, wat in 1975 oorlede en op die plaas Salem begrawe is.

In Maart was die lorrie nog op sy plek in die rivier; in Junie het Chris Hansen, Thomas se seun, ’n oproep van sy neef gekry wat hom ingelig het die lorrie is weg en daarmee saam ’n groot deel van die familiegeskiedenis.

“Die Hansen- en Brockerhoff-gesin het daar geboer. Die Hansen-gesin op die plaas Salem en die Brockerhoffs op die plaas Vlakbank – ’n entjie uitmekaar,” het Chris gesê.

“My pa en sy broer het die lorrie gebruik om water aan te ry, groot items te vervoer en te boer. In die vroeë tagtigerjare is die gebied as die Namib-Naukluft Park, ’n natuurbewaringsgebied, verklaar en die mense moes trek. Salem en Vlakbank was in die gebied geleë en toe die mense trek, het hulle die lorrie in die Swakoprivier onder ’n boom agtergelaat.”

Behalwe vir die lorrie is grafte op beide die plase agtergelaat en ’n huis wat tans deur werknemers van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme bewoon word.

“My ma se suster het die huis vir hulle ma gebou en sy het net so ses maande – miskien ’n jaar – daar in die huis gebly toe sy oorlede is en hulle moes trek.”

Die lorrie waarin Chris as ’n sesjarige plaasjapie gery het, het in die Swakoprivier agtergebly – naby die Riet-pompstasie.

“Ons het altyd die kleinkinders en agterkleinkinders Salem toe gevat en vir hulle die grafte gewys. Dan het ons ons pad na die lorrie aangepak voor ons verder gery het om hulle die omgewing en al die besienswaardighede te wys. Die lorrie het meer Riet se kant toe gestaan – sowat 16 kilometer vanaf Salem. By Riet is ’n pompstasie waarvandaan Langer Heinrich hulle water kry. Dit is deel van ons familie se geskiedenis.”

Volgens Chris het die lorrie nog sy enjin en ratkas ingehad. Slegs die vensters was stukkend en die houtbak het werk nodig gehad.

“Ek het gaan kyk en daar is geen teken van die lorrie nie. Die gate van waar die wiele was, is daar en dis dit. Iemand het die lorrie uitgegrawe en op ’n sleepwa gelaai en weggery.

“Ek dink daar is net twee moontlikhede; iemand wil die lorrie regmaak en vertoon of net eenvoudig uitstal. Ek is natuurlik nou bang dat hulle dit dalk sal vernietig omdat ek na die lorrie soek en hulle weet hulle het die lorrie onwettig verwyder.”

“Ek het talle navrae oor die lorrie gekry en mense wat dit wou koop. So ses maande voordat die lorrie verdwyn het, het iemand my neef gekontak en ֹ’n aanbod gemaak. Ek het onmiddellik gesê die lorrie bly net daar staan; die bietjie geld kan nie my familie se geskiedenis vervang nie.”

Volgens Chris kon die lorrie net met die Langer Heinrich-afdraai uitgesleep word.

“Jy vat die afdraai en draai dan links af. Langer Heinrich het die pad geskraap en mooi gemaak tot by Riet. In die ou dae het ons omtrent ’n uur gery om 30 kilometer af te lê aangesien die pad klipperig en sleg was, maar nou is die pad goed.”

Hy wil egter net die lorrie terughê sodat dit in die begraafplaas gesit kan word en die geskiedenis bewaar kan word. Behalwe vir die grafte, is dit al wat ons het.

“Ek wil dan die hele begraafplaas met die lorrie daarin omhein en die geskiedenis neerskryf en daar opsit vir almal wat daar verbykom om te sien. Dan kan hulle meer leer oor die mense wat daar begrawe is. Dit is nie net vir my nageslag nie, maar ook vir enige Namibiër wat belangstel.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 21° | 27° Oshakati: 24° | 29° Ruacana: 21° | 28° Tsumeb: 20° | 29° Otjiwarongo: 21° | 26° Omaruru: 22° | 31° Windhoek: 21° | 26° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 23° | 30° Mariental: 25° | 30° Keetmanshoop: 23° | 33° Aranos: 24° | 32° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 23° | 29° Oranjemund: 15° | 26° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 31° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 26° Maputo: 24° | 33° Windhoek: 21° | 26° Cape Town: 18° | 24° Durban: 21° | 29° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!