Waatlemoene kry almal base

Boerin oorval deur belangstelling
Nadat Republikein op gister se voorblad berig het oor 'n waatlemoenboer wat 'n rekordoes het, maar geen mark nie, het sy aanbiedinge van so ver as die kus ontvang om haar produkte te koop.
Elvira Hattingh
“My foon klink soos ’n Kersklokkie, hy hou nie op lui nie. Dit lyk my ek gaan nou 24-7 oes, maar ek kla glad nie,” het ’n dankbare Babette Taljaard gisteroggend aan Republikein gesê.

Dit volg nadat haar artikel gister op Republikein se voorblad verskyn het, waarin sy vertel dat sy, maar ook sommige ander waatlemoenboere in die Tsumeb-Grootfontein-omgewing, nie ’n afsetgebied vir hul waatlemoene kan kry nie omdat die mark in die noorde van die land reeds oorversadig is.

“Daar is soveel nommers wat my nou geskakel het, so ek moet nou op ’n lys afgaan om die mense terug te bel,” het Taljaard gister vertel. Freshmark, ’n afdeling van Shoprite Checkers, het egter eerste die geleentheid aangegryp en ’n ooreenkoms met haar aangegaan vir al haar waatlemoene.

Ook Republikein is gister deur navrae oorval en versoeke om met Taljaard kontak te maak is van so ver as Omaruru en Hentiesbaai vanaf winkelgroepe ontvang.

Taljaard het gesê sy sou diegene wat waatlemoene soek, na ’n ander waatlemoenboer verwys, want haar waatlemoene het ’n mark gekry.

“Hulle het my selfs N$5 meer aangebied as waarop ek gereken het. Die Here is goed, ek kan Sy hand in hierdie hele ding sien. Dit is wat my so opgewonde maak,” het sy gesê.

Taljaard het gister gesê sy kon nêrens meer plek vir haar waatlemoene kry nie. Op Tsumeb se groentemark het hulle gesê hulle kan geen waatlemoene meer inneem nie.

Terselfdertyd haal Taljaard vanjaar ’n bogemiddelde oes van haar lande af. Sy verwag om sowat 3 750 waatlemoene te oes. Dit is ongeveer 75 ton per hektaar.

Taljaard versorg haar groentelande nougeset en met baie aandag en liefde.

“Ek pas presisieboerdery toe en sit moeite in om te sorg dat die plante gesond en goed versorg is, want dan kan jy op ’n kleiner stukkie grond net so veel oes as iemand op ’n groter stuk grond,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Callie Opperman 1 Jaar Gelede02 December 2022

Mooi berig Elvira. So help julle koerant om die land met mekaar te laat kommunikeer! Dankbaar vir Babette dat sy 'n mark vir die waatlemoene gekry het.

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!