Walvisbaai se toeka onthou

Deel van ons geskiedenis
Die onderhoude met grootouers, ouers, tannies en ooms weerspieël 'n geskiedenis van liefde, eenheid, vrygewigheid, oorlewing en baie pret in 'n era waartydens destydse inwoners van Walvisbaai baie tydens die tydperk van apartheid moes verduur.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Dit was die wonder of die jongmense van haar geboortedorp regtig geweet het van hul “vandaankom”, van die stories en onthou’s en geskiedenis voordat Walvisbaai uiteindelik deel van Namibië sou word.

Van hulle se grootouers en selfs grootgrootouers het steeds geleef wat die stories van die verlede kon oordra, maar vir ander was hierdie skatkisse van kennis nie meer ’n voorreg nie en het bejaarde familielede hul onthou’s saam met hulle graf toe geneem.

“Ons verloor daagliks ons grootouers en ons ouers. Ons verloor ook ’n deel van ons geskiedenis elke keer as ’n bejaarde persoon sterf,” sê die joernalis, skrywer en filantroop, Taati Niilenge, wat in Walvisbaai gebore is en ook hier grootgeword het.

“Die nuwe generasie raak verlore in die poel van hierdie modern wêreld. Om aan hulle dus ’n stuk van hul geskiedenis te gee, is belangrik voordat niemand oor is om hul stories te vertel nie,” verduidelik Taati die motivering vir haar jongste pennevrug Walvis Bay – Our Story.

Die doel van die boek is om die stories te dokumenteer van die oorsprong van generasies in Walvisbaai, sê Taati.

“Kuisebmond en Narraville was nie heel aan die begin daar nie. Dit het begin met ’n klein gedeelte van Walvisbaai in die ou lokasie waar ons grootgrootouers ontmoet het.”

Hulle het van verskillende gebiede en dorpe gekom om in “hierdie unieke dorp te kom bly, geleë aan die weskus van Namibië, netjies weggesteek waar die duine die see ontmoet”.

“Ons ontmoet verskillende karakters in die boek wat hul individuele stories oor Walvisbaai vertel volgens wat hulle kan onthou. Van hulle was nog nie so oud nie, maar ons sal hulle deur hierdie stories onthou. Terwyl ek onderhoude met ons grootouers, ouers, tannies en ooms gevoer het, het ek besef hulle stories is ’n geskiedenis van liefde, eenheid, vrygewigheid, oorlewing en baie pret in ’n era waartydens hulle baie in die tydperk van apartheid moes verduur. Hulle vertel van die belangrikheid van gemeenskap.”

Walvis Bay – Our Story sluit hoofsaaklik kwessies oor politiek, stamgebondenheid en verdeling in die kerk uit, sê Taati.

“Dit gebruik woorde, frases en tale wat ons oumense (met vertalings) wat ons oumense gebruik.”

Hoewel sy natuurlik nie almal van Walvisbaai in die boek kon insluit nie, hoop Taati alle families sal aanklank by die stories in die boek vind.

“Ek is seker jy kan hierdie paar stories gebruik as motivering om familielede op te soek en meer oor húlle unieke stories uit te vind.”

Sy erken dit was moeilik om ouer mense te kry om die storie van Walvisbaai te vertel omdat baie reeds oorlede is, terwyl dié wat agterbly nie meer veel kan onthou nie.

In meer as 100 jaar van ontmoetings met kolonialiste, sendelinge, apartheid en gedwonge praktyke het families in Kuisebmond en Narraville baie uiterste uitdagings in die gesig gestaar, sê Taati. Maar, hulle was verbind tot die tradisie van eenheid en liefde wat families in Walvisbaai deur tye van teëspoed gedra het.

“Ek hoop daarom dat generasies deur hierdie stories kan terugsit en saam met die oumense kan lag oor die snaakse oomblikke, terwyl dit ook herinneringe terugbring vir dié wat die oomblikke weer herleef.”

Ons sal altyd dié onthou wat voor ons daar was, sê Taati.

Hulle het ons gevorm in wat ons vandag is en ’n sin van hoop gegee soos dinge geleidelik vir die “dorpie op die rand van die see” verander het.

“Ons sal die lesse onthou van ons oumense waaroor ons lees en hopelik ook probeer om reg te maak dit wat ons afgeskeep het om sodoende gelukkige en tevrede lewens in hierdie uitdagende wêreld te leef.”

Mense kla dikwels Walvisbaai het nou “soveel vreemdelinge”, sê Taati.

“Ons verdrink amper in die skare soos meer en meer mense na die dorp stroom. Sommige is gefrustreerd en kla hulle het hul plek in die dorp verloor.”

Die gemeenskap van Walvisbaai het gegroei uit ’n groep oorlewendes van die ou lokasie, verduidelik Taati.

“Ek wou hulle ervaring gebruik om trots te wek dat daar iets is wat nie van ons weggeneem kan word nie.”

Taati het onderhoude met verskeie generasies inwoners gevoer, sommige wat reeds in die dertigerjare in die dorp aangekom het en ander wat na dit gebore is. Die hoogtepunt in die skryf van die boek was dat haar ouers as medeskrywers deel daarvan was. Hulle het haar aan vriende voorgestel en onder meer geskiedkundige plekke gewys waar hulle gespeel en skoolgegaan het.

“Die gemeenskap was onmiddellik opgewonde oor die boek en het begin om hul stories te deel en foto’s by te dra. Ek het ’n klomp ou foto’s gebruik om aan jongmense te wys waarvan die ouer garde praat en hoe die dorp gegroei het.”

Taati is buiten haar rol as joernalis ook betrokke by skakelwese en het reeds verskeie kort stories geskryf oor die uitdagings wat vroue ervaar, sowel as boeke oor kindertoerisme, insluitend Pewa’s Ocean Adventures en Pewa’s Namibian Safari. Twee Christelike boeke het ook uit haar pen gevloei. The Still Small Voice fokus op die storms van die lewe en hoe Jesus jou nooit in moeilike oomblikke in jou lewe verlaat nie, terwyl The Plan fokus op die toekoms wat God vir Sy kinders het.

Taati is ook die medevervaardiger van Walvis Bay Tale, ’n dokumentêr wat verlede maand vrygestel is. Sy is ook die stigter van die Wailing Women-voorbiddingsgroep en bestuur verskeie filantropiese en gemeenskapsprojekte veral vir die jeug.

Buiten haar doelwit om jongmense op Walvisbaai altyd besig en sover as moontlik uit die strate te hou waar “baie in dwelms verlore raak”, is haar droom om haar boeke in biblioteke en jeugsentrums te hê waar jong mense toegang tot die stories van gister het. – [email protected]

GRYS BLOKKIE:

’n Toevloei van koloniste het die ligging en hulpbronne van hierdie strategiese hawe-nedersetting ontwikkel.

Die hawe se waarde met betrekking tot die seeroete om die Kaap van Goeie Hoop het die aandag van wêreldmagte getrek sedert dit in 1485 deur die buitewêreld ontdek is.

Vir die grootste gedeelte van sy geskiedenis is Walvisbaai as ’n enklawe bestuur apart van die gebied wat vandag Namibië is.

Die Portugese seevaarder Diogo Cão het Kaap Kruis noord van die baai in 1485 bereik. Daarna volg Bartolomeu Dias, wat op 8 Desember 1487 sy vlagskip São Cristóvão in die huidige Walvisbaai geanker het, op sy ekspedisie om ’n seeroete na die Ooste via die Kaap die Goeie Hoop te ontdek.

Hy het die baai “O Golfo de Santa Maria da Conceição” genoem. Die Portugese het egter nie amptelik ’n aanspraak op Walvisbaai gemaak nie.

Walvisbaai is aan die einde van die 18de eeu gestig as ’n oornagplek vir seereise tussen Kaapstad en Nederland deur die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie.

Geen permanente nedersetting is gevestig nie en min kommersiële ontwikkeling het tot die laat 19de eeu in die gebied plaasgevind. Intussen het die Kaapkolonie Brits geword en tydens die “Scramble for Africa” het die Britte aanspraak gemaak op Walvisbaai.

Hulle het die Kaapkolonie toegelaat om die anneksasie van die gebied in 1884, saam met die Pikkewyneilande, te voltooi nadat die aanvanklike stappe in 1878 geneem is. Op 29 Februarie vanjaar was dit 30 jaar gelede dat Walvisbaai uiteindelik amptelik deel van ’n onafhanklike Namibië geword het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!