grootaub
grootaub

Waterprobleme knel Groot Aub stééds

Wêreldwaterdag is onlangs gevier
Die regering is op soek na oplossings vir Groot Aub, waar die vraag na water groter is as wat uit boorgate voorsien kan word, terwyl boerderybedrywighede die beskikbare water besoedel.
Elvira Hattingh
Die waterkwessies in Groot Aub is tweeledig: Eerstens oorskry die vraag na water verskaffing uit boorgate tot so ’n mate dat daar nie genoeg water beskikbaar is nie, terwyl dit ook toenemend besoedel word as gevolg van menslike aktiwiteite.

Dit aldus die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, tydens die vieringe van Wêreldwaterdag, asook Wêreldvleilande-dag, wat die afgelope Vrydag op Groot Aub gevier is.

Die onderskeie temas vir dié wêrelddae was, “dit is tyd vir die herstel van vleilande”, asook die “versnelling van verandering deur vennootskappe en samewerking”.

Schlettwein het in sy toespraak gesê, soos voorgelees deur die ministerie se uitvoerende direkteur, Ndiyakupi Nghituwamata, dat die vraag na water by Groot Aub oor die afgelope jare gegroei het vanweë die bevolkingsgroei wat in die nedersetting ervaar word. Mense het hulself hier kom vestig op soek na behuising en beter geleenthede.

Hy sê verder studies toon dat die water in die gebied byvoorbeeld nitrate bevat, wat met dieremis vereenselwig word.

“Ons moet seker maak dat die beperkte water wat beskikbaar is, skoon gehou word deur maatreëls in te stel sodat ons die water kan bewaar.

“Dit beteken ons moet gebiede uitsit vir die aanhou van diere en afval bestuur sodat dit nie in ons ondergrondse water beland nie.

“Ons moet sanitasiedienste verbeter om ‘bostoilette’ te vermy en persoonlike higiëne te bevorder. . .”

Schlettwein het gesê hy en die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, het Groot Aub in Februarie besoek om vas te stel wat die probleem met die water is en moontlike oplossings te ondersoek.

“Ons weet dat Groot Aub nou deel van die Windhoek-gebied is, terselfdertyd word die gemeenskap deur waterverskaffings- en sanitasiekwessies in die gesig gestaar. . .”

Hy sê die regering en die Windhoekse munisipaliteit kan nie alleen probeer om gemeenskappe met soortgelyke waterkwessies te help nie, maar benodig vennote in die private sektor.

Intussen het Alka Bhatia, plaaslike verteenwoordiger van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP), daaraan herinner dat Namibië die droogste land suid van die Sahara is en terselfdertyd ook baie kwesbaar vir klimaatsverandering is.

Terselfdertyd maak 80% van Namibië se nywerhede en inwoners op ondergrondse water vir watervoorsiening staat.

Sy het bygevoeg dat – om kwesbare gebiede soos Namibië te help om beter veerkragtigheid teenoor klimaatsverandering te toon – ondersteun VN-agentskappe die regering met die volhoubare bestuur van natuurlike hulpbronne, veral as dit by ondergrondse water en vleilande kom.

Sy het na kleiner projekte asook die Cuvkun-projek verwys – wat werk doen vir verbeterde watersekuriteit en gemeenskapsveerkragtigheid in die aangrensende Cuvelai- en Kunene-oorgrensrivierkomme.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!