Weesdiere kry tuiste op Gobabis
“Dit is sommer net lekker om liefde vir diere te gee en hulle te versorg, maar die wete dat ’n klein persentasie van mishandelde diere gehelp kon word, maak dat ek aanhou.”
So sê Annelize Licht wat saam met haar twee werkers vir byna 90 weesdiere in die Gobabis-omgewing ’n veilige hawe bied. Talle van dié diere was verwaarloos, mishandel en siek toe sy hulle ingeneem het.
“My motivering is om hulle gedaantewisseling te sien ná sulke mishandeling, en is ons as mense nie verantwoordelik vir die natuur en die diere nie?”
Die driemanspan agter die dierewelsynsorganisasie Gobabis Animal Rescue versorg tans sowat 50 honde en 38 katte op Annelize se private eiendom buite Gobabis.
Annelize se liefde vir diere het haar aangespoor om in 2018 diere te begin red, versorg en ’n veilige hawe vir hulle te bied. Sy ken elke dier se naam en maak seker hulle het genoeg ruimte om rond te beweeg. Hoewel twee, drie of vier honde in ’n groot kamp met beskutting woon, maak sy steeds seker elke hond kom deur die dag uit om rond te hardloop en te speel.
Sy sê alles het begin toe hulle vier honde by ’n rivieroewer gered het. Dié honde is vandag nog in haar sorg.
Hulle het al talle diere ingeneem wat ernstig siek of beseer was en sy het hulle versorg en ’n goeie huis vir hulle gegee.
Een van die honde, Micah, is in Mei 2021 by Metro gevind.
“Hy was naby aan die dood. Met die hulp van ’n veearts kon ons sy septiese wonde skoonmaak en ná drie maande van wonde was, weer verbind, baie liefde en aandag, het Micah herstel.
“Hy is ’n liefdevolle, maar ook jaloerse hond. Hy is vol energie en die baas van Gobabis Animal Rescue,” vertel Annelize.
Robbie, ’n saggeaarde bruin windhond, se ribbes was duidelik sigbaar weens ondervoeding toe hy by Annelize opgedaag het. Sy herstelproses het vier maande geduur.
“Robbie is nou ’n liefdevolle hond wat graag op ’n plaas van sy energie wil ontslae raak.”
Army, ’n blinkoog Jack Russel, het drie maande gelede by die diereorganisasie opgeëindig en hoewel Annelize weet wie sy eienaar is en daardie persoon destyds ingestem het om hom te kom haal, is Army nog steeds daar.
’n Ander hond, Carmen, het haar oog verloor en hoewel sy goed herstel het, is haar sig baie swak. Volgens die veearts sal sy goed in ’n omgewing doen wat sy ken en veilig voel en dít bied Gobabis Animal Rescue aan haar.
Die diereorganisasie het ook in Oktober 2022 ’n perd, Bicardi, ingeneem wie se eienaar hom mishandel het. Hy het ernstige seerplekke gehad, maar Bicardi is ná vier maande perdfris en gesond en woon nou gelukkig op ’n plaas.
“Ek dink net, hoekom moet diere onder sulke slegte omstandighede lewe as hulle ook ’n beter lewe kan hê waar hulle ook hul geaardheid en dankbaarheid kan wys?” het Annelize gevra.
HOE KAN JY HELP?
Hulle kry nie baie ondersteuning of skenkings van die gemeenskap nie en sy moet talle kere haar hand diep in haar eie sak steek, sê Annelize.
Die gemeenskap kan kos of geld skenk en enige vrywilligers is welkom.
Sy sê hulle benodig veral geld en hulp om nog kampe vir die honde te bou. Gobabis Animal Rescue verkoop ook 2024-kalenders teen N$150 om geld in te samel.
Die diere kan ook teen ’n billike prys aangeneem word.
Annelize erken dit is hartseer om die diere te groet, maar dit maak haar dolgelukkig om te sien dat hulle goeie huise kry.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie