'Word die ouers wat ons kinders nodig het'

Handleiding vir San-ouers
'n Feministiese organisasie in Windhoek gaan voortaan mans by hul projekte betrek en het 'n handleiding vir ouers en versorgers saamgestel.
Kristien Kruger
Die Women’s Leadership Centre (WLC) het verlede week ’n handleiding bekend gestel met die doel om ouers en versorgers in die San-gemeenskap toe te rus met ouerskapvaardighede om die beste moontlike opvoeders vir hul kinders te kan wees.

Die handleiding getiteld “Becoming the parents our children need” is by die Tabitha-sentrum in Khomasdal, Windhoek, bekend gestel.

Die boek vorm deel van die WLC se projek om geweld in die San-gemeenskappe te bekamp deur bewusmaking en opvoeding, veral ten opsigte van huishoudelike geweld. Die ambassade van Finland finansier die projek.

Die vroueregtekampvegter en WLC se direkteur, me. Elizabeth |Khaxas, het die handleiding in samewerking met die direkteur van Sister Namibia, me. Liz Frank, en me. Lis Jordan, saamgestel.

Mnr. Royal ǀUiǀoǀoo, adjunkminister in die presidensie verantwoordelik vir randgemeenskappe en ’n lid van die San-gemeenskap, het die bekendstelling bygewoon.

Hy het uitgebrei oor die diversiteit binne die San-gemeenskap en die ryk geskiedenis en kultuur waarop hulle trots kan wees.

WLC

Die WLC is ’n feministiese organisasie wat reeds in 2004 gestig is. Die doel van die organisasie is om vroueregte, leierskap en burgerreg onder meisies en jong vroue op te bou. Die organisasie motiveer vroue om vir hulself te praat en kwessies in hul gemeenskappe te takel.

Volgens |Khaxas het die organisasie verlede jaar besluit om ook mans by hul projekte te betrek.

“Ons werk tans met ses groepe, insluitend meisies, seuns, jong mans, jong vroue en volwasse mans en vroue in verskeie San-gemeenskappe. Tydens sessies met die onderskeie groepe, hanteer opgeleide gemeenskapsfasiliteerders onderwerpe soos konflikoplossing, menseregte en waarom dit belangrik is om geweld hok te slaan.”

“Ons het onlangs ons fokus verander en help mense nie net om met die gevolge van geweld saam te leef nie, maar om proaktief op te tree om dit te probeer verhoed,” het |Khaxas tydens die bekendstelling gesê.

Volgens haar werk hulle ook met die San-kinders om hulle te leer hoe om hul emosies te identifiseer en te hanteer.

Die WLC het in die verlede twee boeke gepubliseer en versprei waarvan een daarop gefokus het om jong San-vroue van hul regte onder die Konvensie vir die Uitskakeling van alle vorme van diskriminasie teen vroue (CEDAW) in te lig.

In 2014 het hulle ook ’n boek “Creating ourselves in our own image; Photos and texts by young lesbians in Namibia” gepubliseer om die dapperheid, kreatiwiteit en trots van lesbiër Namibiërs ten toon te stel. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!