Afrikaans kom van vêr af
Afrikaans is ons almal s'n en al gebruik ons die taal al vir honderde jare, was dit op 8 Mei 1925 toe dit amptelik, naas Engels, een van Suid-Afrika se twee amptelike tale geword het.
Afrikaans100 is ‘n groep mense wat lief is vir die taal en wat erken dit is divers met ‘n diverse herkoms wat deur mense van alle rasse, etniese en kultuurgroepe gepraat en gebruik word. Dit is ‘n inklusiewe en vriendelike taal met verskillende, maar versoenbare kontekste. Jou Afrikaans klink dalk nie soos my Afrikaans nie, maar dis ons almal s’n.
Blokkie:
1500's
Khoi-Afrikaans dateer reeds van 1595. Toe daar in 1625 ’n permanente halfwegstasie aan die Kaap opgerig is, was Khoi-Afrikaans reeds gevestig en dus die eerste periode in Afrikaans se geskiedenis.
1671
Daar word aangeteken dat die Hollands wat aan die Kaap gepraat word, nie meer soos die taal in die stamland klink nie. Die oorspronklike naam vir Afrikaans was Afrikaans-Hollands oftewel Hollands van Afrika.
1800 - 1875
Navorsers vind dat daar verskillende variëteite in die Kaap gepraat word wat Nederlands, Kaapshollands, Boerehollands of Boereafrikaans, Platkaaps, Hottentothollands, Slawe-Afrikaans en Vreemdelingafrikaans insluit.
1806
Met die tweede Britse oorname het Engels geleidelik die amptelike voertaal aan die Kaap geword en daar word probeer om Nederlands en Afrikaans te verdring.
1807
Altesaam 375 slawekinders ontvang teen 1807 hulle godsdiensonderrig in Kaapse Afrikaans. Een van die leermetodes was om die heilige skrifte in Afrikaans, maar in Arabiese letters, oor te skryf. Afrikaans se vroegste vorm in skrif was dus in die Arabiese alfabet geskryf.
1815 - 1840's
Die skole van die Kaapse Moslem-gemeenskap gebruik Afrikaans deurentyd as onderrigmedium. Die Moslem Theological School was die eerste skool in Suid-Afrika wat Afrikaans as voertaal gebruik het en teen die 1840’s was Arabiese Afrikaans gevestig en is skryfoefeninge in Kaapse Afrikaans gedoen, maar met die Arabiese alfabet.
1838
Die eerste onderwyskollege word op Suid-Afrika se oudste sendingstasie, Genadendal, begin.
1858
’n Predikant van die Paarl, ds. Van der Lingen, begin in 1858 ’n skool – De Gimnasium – met Nederlands as voertaal. Een van die onderwysers wat by die skool aansluit, is Arnoldus Pannevis, ’n taalkundige Nederlander, wat besef het Kaaps-Hollands het nie meer genoeg ooreenkomste met Hollands om as ’n dialek beskou te word nie. Hy noem die taal Afrikaans.
1875
Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) word op 14 Augustus 1875 gestig.
1902
Ná die Vryheidsoorlog word daar ’n hernude poging aangewend om Afrikaans te bevorder.
1925
Op 8 Mei 1925 word Afrikaans, naas Engels, amptelik een van Suid-Afrika se twee landstale.
1931
Die eerste Afrikaanse rolprente, Moedertjie en Sarie Marais, word vrygestel. Sarie Marais, ’n musiekrolprent, was die eerste Afrikaanse film met ’n klankbaan, en Moedertjie, ’n drama, die eerste met dialoog. Barakat in 2021 is die eerste Moslem-film in Afrikaans.
1942 - 1959
Afrikaans word as universiteitstaal gevestig.
1957
Adam Small debuteer met die digbundel Verse van die liefde en trek aandag met onder meer die digbundel Kitaar my kruis in 1962 en die toneelstuk Kanna hy kô hystoe in 1965. Kitaar my kruis se tweede uitgawe het sewe herdrukke gehad. Prof. Small het in Kaaps geskryf en was ’n voorloper van ’n generasie bruin Afrikaanse digters wat protespoësie in die 1980’s gepubliseer het.
1975
Die Taalmonument word tydens die eeufees van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) geopen.
1994
Afrikaans word een van Suid-Afrika se elf amptelike landstale. Pres. Nelson Mandela lees onder meer Ingrid Jonker se gedig “Die kind” voor in sy toespraak op 24 Mei 1994. Dertig jaar ná demokrasie, is Afrikaans steeds die taal wat deur die derde meeste mense in die land gepraat word.
1995
Die eerste nasionale Afrikaanse kunstefees, die KKNK, word van 7 tot 13 April in Oudtshoorn gehou.
2025
Afrikaans vier op 8 Mei eeufees as amptelike taal in Suid-Afrika.
‘n Tappisserie eie aan ons - Bettina Wyngaardt (skrywer)
“Afrikaans is mooi, en Afrikaans is moeilik. Dis ʼn komplekse taal met ʼn komplekse geskiedenis van party wat wou uitsluit, en ander wat alles wou doen om in te sluit. Daar is nie een enkele narrative wat die volheid van Afrikaans omvat nie. Soms maak dit trots, soms skaam, soms kwaad, maar nooit is daar net ʼn ongeëergdheid jeens die taal en haar mense nie.
Om die kompleksiteit te ontken, beteken ook dat ons iets van die rykdom van daai geskiedenis weggooi – die goeie, die slegte en die aaklige weef saam aan ʼn tappisserie wat eie aan ons is. Ek hoop dat ons nageslag nooit Afrikaans net deur rooskleurige brille sal sien nie. Ek hoop hulle besef dat die taal oor ʼn eeu en hopelik die volgende eeu soos rivierklippe glad geskuur en mooi gemaak is deur die wrywing. Ek bid dat hulle daai opoffering sal eer. Hopelik sal hulle soms net stilsit in verwondering oor hoe huilmooi ʼn woord op die oor val, en die musiek sal hoor in woorde soos tjaila, knaap, jammerlappie en allegaartjie. My wens is dat hulle sal besef taal, kulturele gebruike, kos, musiek en literatuur alles deel vorm van wat ons mens maak, en dat ons onsself kniehalter wanneer ons dit wegsteek as deel van ons gemeenskaplike kultuurgeskiedenis.
Ek hoop hulle sal gemaklik wees met die speelsheid van “aweh masekin”. Ek hoop hulle sal weet in hul diepste wese dat taal allemansgoed is, en hoe meer mense ʼn taal gebruik, hoe beter vir die taal. Ek hoop dat instede van skaam wees om Afrikaans in al haar vorme te praat, hulle sal besef hoe cool en hoe uniek hierdie jong taal is wat al soveel golwe gemaak het.
My grootste hoop en wens en gebed is dat hulle trots sal wees op Afrikaans in al haar diwersiteit.”
‘n Taal wat lewe en vibreer - Anzil Kulsen( skrywer)
As jy “eina!” skree vir ‘n doring se steek en blatjang by jou vleisie eet, “Deur Druk” met Early B of saam sing met Dawid Kramer en die manne van die Royal Hotel, is jy waarskynlik Afrikaans soos kan kom.
’n Afstammeling van Krotoa, dis nou ek en jy, familie van Autshumato, moontlik van Jan van Riebeeck en ook van ou Simon van der Stel.
Gevloei uit vele oseane en gekruip oor enorme sandduine met invloede van Khoi, Maleisies, Arabies het ons taal sy eerste babatree gegee. Sy het gegroei tot soveel meer as net ’n middel van kommunikasie, sy het haar voete gevind, selfstandig geword. Sy ding mee op elke vlak, sy is dinamies en veerkragtig.
Hier is ons nou, ek en jy. Met die mooiste Afrikaans, ’n taal wat lewe en vibreer, haar groei en vaardighede word deur menigte begeer.
Ons skep nuwe woorde, kuns en musiek, ons vier fees, vat hande en beur vorentoe. Afrikaans vou haar sambreel moederlik oop, omhels nuutskeppings en al haar variëteite.
So, hoe lyk’it my broe, gaan djy dala wat’djy moet en op die wa bly, of wil djy liewer gly? Ja, dalk het djy gehoor hoe mense baklei het en steeds swaar dra aan die verlede. Ons is hier, meer as ’n eeu oud en staan sterk, ons gaan vorentoe.
Daar issie ’n anner way, Afrikaans is jy gebore, dis jou moedertaal. Leef daarin, outentiek, want dis jou reg en voorreg. Maak jou bydrae, maak jou merk, lewer jou kunswerk in jou ma se taal met sy Namakwalandse- of Kaapse-geur, die keuse is joune. Solank jy onthou jou taal bly veg vir jou. Awêh!
Sy ghoema die riel in sokkies - dr. Willa Boezak (teoloog, skrywer)
My gedig oor Afrikaans (2015) eindig so: kyk/ daar dans sy vandag/ ’n mooi vrou in pastel/ en grondkleure/ omhels in skerp én sagte geure/ en sy ghoema die riel in sokkies!
Die /khâba-ra (riel): Ons moeder is gebore na sowat 100 jaar se ruilhandel met gebaretaal tussen Khoi-veeboere en Europeërs. Die Kaapse Khoi-Khoi en die Hollanders het in 1595 begin moeg raak vir die beduiery. GS Nienaber sê Hottentot-Hollands het tot “...die vorming, aard, karakter en seggenskrag” van Afrikaans bygedra. Tolke soos Krotoa en Doman het ongeveer tagtig Khoi-Afrikaanse woorde naas Hollands ingespan.
Die ghoema: Ons moedertaal het haar kinderjare ontgroei toe imams en taalgeleerdes, wat teen die kolonisering van hul tuistes soos Indonesië en Bengale gestruggle het, as rebelle na die Kaap ontvoer was. In die Kaapse madrassa het onder meer Tuan Guru en Abubakr Effendi godsdiensonderrig in Arabies-Afrikaans gegee. Hulle het in die middel 1800’s die spreektaal met Arabiese letters begin skryf. Dis baie cool, om maar een van vele Moslemafrikaanse woorde te gebruik.
Die sokkie: Daarna het onder andere Arnoldus Pannevis, CP Hoogenhout en ds. SJ du Toit die GRA in 1875 te Paarl gestig. Doel: “Om te staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land”. Hulle joernaal en woordeboeke het ons taal in die tydsgleuf van vroeë volwassenheid geneem. Van die grondleggers se woordeskat is wel ingesluit, maar hul erkenning is skromelik uitgesluit. Die “nasie” het immers taalkaping en blankheid veronderstel!
Mettertyd is ons moedertaal omskep in ’n oop, veerkragtige, dinamiese, grensverskuiwende, nie-rassige erfstuk. Danny Titus se geliefkoosde teksvers was Ps. 16 v. 6: “My erfenis is vir my mooi.” In my Pesalms vi ôse mense: “Dit wat ek van U gekry’et, Vade, is n/ya”.
Besoek afrikaans100.org vir meer inligting.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie