Die Alte Feste word opgeknap en herstel. Foto Tanja Bause
Die Alte Feste word opgeknap en herstel. Foto Tanja Bause

Alte Feste kry nuwe baadjie

Die Alte Feste in Windhoek gaan opgeknap en herstel word.

Dit volg nadat die ministerie van onderwys, kuns en kultuur verlede jaar in Oktober en November ’n aanlyn opname van stapel gestuur het. Die ministerie wou by Namibiërs weet wat hulle van die gebou dink en wat hulle wou hê moes met die gebou gebeur.

Die ministerie het ’n tienjaarkontrak met Namibia Arts, Craft and Design (NACD) onderteken. Hulle bestuur tans die Craft Center in die middestad.

“Die vennootskap is vir die opknapping en bestuur van die nuwe kompleks. Die beoogde opgraderings, sluit in ’n galery, museum, kunsvlytmark, studio’s, restaurante en geriewe waar geleenthede aangebied kan word,” lui ’n verklaring wat die ministerie uitgereik het.

Die ministerie en NACD sal gesamentlik finansiering vir die verskillende fases van die projek insamel.

Gedurende fase 1 word beoog om die monument te stabiliseer en om kunsvlyt-items te skep, terwyl nog geldinsamelings gehou sal word. Die hoop is dat die projek binne twee jaar voltooi sal wees.

“Die ministerie – wat verantwoordelik vir die Alte Feste is – hoop om die historiese gebou te hergebruik dat dit ’n plek word wat toeganklik en voordelig vir alle Namibiërs is. Vergaderings met belanghebbendes, wat belangstelling getoon het om deel van die opgraderings te wees, sal in Maart plaasvind.”

Altesaam 2 601 respondente het aan die opname deelgeneem, waarvan 54% vroue was en 46% mans.

Meer as 80% het die Alte Feste as ’n belangrike kulturele, historiese en of monumentele gebou beskou wat van groot betekenis vir die Namibiese gemeenskap is.

Altesame 86% het saamgestem dat die gebou in ’n kuns, kultuur en erfenissentrum vir almal omskep moet word, terwyl 90% aangedui het dat Namibiërs by die hergebruik van die Alte Feste sal baat.

Die Alte Feste is die oudste gebou in Windhoek en is in 1957 tot ’n nasionale monument verklaar.

Ná onafhanklikwording was dit die Nasionale Museum van Namibië voordat sy deure gesluit het. Baie min, indien enige instandhouding, is in die jare sedert die sluiting gedoen en die gebou is in ’n vervalle toestand en benodig grootskaalse opknappings.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!