Wêreld se beste minerale-versameling op Tsumeb

Noordedorp wy sy minerale-museum in
Alle minerale en edelgesteentes wat in die noordedorp se myn gevind kan word, sal hier vir die publiek ten toon gestel word, terwyl historiese mynkaarte ook hier bewaar word.
Elvira Hattingh
“Tsumeb is die enigste plek ter wêreld waar jy soveel minerale bymekaar kan vind. Meer as 310 verskillende minerale en edelgesteentes is reeds hier ontdek – en nóg sal gevind word.”

Só het Zebra Kasete, visepresident en besturende direkteur van Dundee Precious Metal Tsumeb, gister tydens die amptelike inwyding van die nuwe mineralogiese en mynmuseum op Tsumeb gesê.

Die plan is om elke soort mineraal en edelgesteente wat in die noordedorp se myn gevind kan word, hier vir die publiek uit te stal, terwyl historiese mynkaarte ook hier bewaar sal word.

Die inwyding kom terwyl die dorp onlangs deurgedring het as een van die wêreld se top-100 geologiese erfenisgebiede, soos bepaal deur die Internasionale Unie van Geologiese Wetenskappe (IUGS).

DUITSE AMBASSADE

Clarissa Judmann, die kultuurbeampte by die Duitse ambassade, het tydens die opening gesê die projek het ’n lang geskiedenis, met restourasiewerk aan een van die skagte wat reeds in 2018 begin het.

Die Duitse regering het ook reeds 15 000 euro (sowat N$30 000) vir die ontwikkeling van die museum bewillig.

“Die doel was om die gebou te herstel sodat dit as ’n museum gebruik kan word. Boonop moet die bestaande monsters en kaartargiewe bewaar word,” het sy verduidelik.

Judmann sê buiten vir dié projek, is die ambassade ook betrokke by nog twee ander op die perseel – die restourasie van die kragopwekker-saal asook die myntoring. “Verskeie projekte het reeds begin en sal waarskynlik tot in 2026 voortduur,” het sy gesê.

“Ek is baie dankbaar om te sien die eerste mylpaal is behaal – naamlik die inwyding van die museum vir die publiek.”

Sy meen hierdie is nie net ’n belangrike stap om die dorp se ryke erfenis aan jonger geslagte oor te dra nie, maar dit sal ook vir geoloë, historikusse en toeriste van belang wees.

BELANG

Kasete sê hy het by vele geleenthede die belangrikheid van Tsumeb se ryk minerale neerslae besef. Hy sê die eerste keer was toe hy ’n minerale instituut in Washington besoek en ontdek het dat hulle een hele vertrek afgestaan het aan monsters van edelgesteentes en minerale wat net uit Tsumeb kom.

“Dikwels wanneer ek ouer geoloë ontmoet, vertel hulle my dit was in die 60’s en 70’s die droom van enige jong geoloog om sy studies in Tsumeb te kom voltooi.

“Dis hoe ryk Tsumeb aan minerale is. Ek dink dis ’n beduidende stap om hierdie gebou op te kon rig en die kennis te probeer herversprei.

“Hierdie museum is ’n droom wat bewaarheid word. Oorsese myningenieurs het vir my gesê hulle kan nie wag om Namibië toe te kom en die museum te besoek nie,” het hy bygevoeg.

INSLUITING

Tsumeb se burgemeester, Mathews Hangula, het tydens die inwyding verduidelik die dorpsraad is besig om die myn- en nywerheidsgebied by die dorpsgebied in te sluit sodat almal dit kan geniet.

“Dis teen hierdie agtergrond dat die dorpsraad met verskeie belangegroepe saamwerk om van die historiese aspekte van die gebied te bewaar,” het hy gesê en bygevoeg dat die dorpsraad reeds in 2018 ’n ooreenkoms vir wedersydse samewerking onderteken het met die Berlynse Federale Instituut vir Materiaalnavorsing en -toetsing (Bam) vir navorsing oor Tsumeb se nywerheidsperseel.

In 2021 het die dorpsraad, tesame met die Nasionale Erfenisraad, besluit om die historiese myn in ’n nasionale erfenisgebied te omskep, met die hoop dat dit dalk eindelik as ’n Unesco-erfenisgebied verklaar kan word.

Hangula het gesê die Duitse ambassade bied finansiële steun aan die projek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer