Tot op hede is daar nog geen amptelike antwoorde vir gesinne wat rou oor slagoffers van voedselvergiftiging nie. Foto Nikanor Nangolo
Tot op hede is daar nog geen amptelike antwoorde vir gesinne wat rou oor slagoffers van voedselvergiftiging nie. Foto Nikanor Nangolo

24 dood, steeds geen antwoorde

Kavango se hartseer werklikheid
Ses minderjariges wat verlede week voedselvergiftiging opgedoen het nadat hulle sampioene geëet het, is tans in 'n stabiele toestand.
Nikanor Nangolo
Frustrasie onder inwoners van die Kavango-Oosstreek neem toe weens die gebrek aan deursigtigheid oor die uitslae van toetse wat uitgevoer is nadat 24 mense die afgelope twee jaar in afsonderlike voorvalle van voedselvergiftiging gesterf het.

Ten spyte van die erns van hierdie tragedies het owerhede nog nie amptelike verslae vrygestel nie, wat aanleiding gegee het tot beskuldigings van toesmeerdery deur inwoners en selfs amptenare.

Pogings deur Network Media Hub (NMH) om verklarings van die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn en die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste te bekom, was onsuksesvol.

Beide entiteite het stilgebly oor die oorsake van dié sterftes.

Buiten vir die groot aantal sterfgevalle, is daar baie mense wat voorvalle van voedselvergiftiging net-net oorleef.



ONLANGSE VOORVAL

Die mees onlangse voorval van voedselvergiftiging het verlede week by die informele nedersetting Kashira plaasgevind.

Ses minderjariges tussen die ouderdomme van ses en nege is in die hospitaal opgeneem nadat hulle sampioene geëet het.

Die hoof van misdaadondersoeke in die streek, adjunkkommissaris Bonifatius Kanyetu, het die voorval bevestig. Volgens Kanyetu het die kinders, wat uit vyf verskillende huishoudings is, in die bosse naby hul huise gespeel toe hulle die sampioene geëet het. Kort nadat hulle teruggekeer het huis toe, het sommige begin braak en swak gevoel.

“’n Stuk van die sampioen is by die kinders gekry en aan mediese personeel oorhandig om met hul behandeling te help,” het Kanyetu gesê.

Die minderjariges is na die Nyangana-hospitaal geneem waar hulle glo in ’n stabiele toestand is en na verwagting binnekort ontslaan sal word.

Wayera Djami, die ouma van drie van die minderjariges, het met ’n plaaslike radiostasie gepraat en gesê sy het nog nooit haar kleinkinders “so swak en naby aan die dood” gesien nie.

“Ek het dadelik ’n ambulans gebel en probeer om die vloeistowwe wat hulle verloor het met water, sout, kookolie en melk te vervang,” het sy gesê.

“Kinders is nuuskierig en speel met enigiets. Van nou af sal ek toesig hou oor hulle om te verseker dat hulle niks onveilig eet nie,” het sy bygevoeg.



ANDER VOORVALLE

In Februarie verlede jaar is drie minderjariges in die informele nedersetting Livayi in die Kavango-Wesstreek dood, vermoedelik weens voedselvergiftiging nadat hulle mutete, pap en melk geëet het. Ten spyte van die erns van die voorval het die gesondheidsministerie geen amptelike verslag vrygestel nie. Dit het vrae onbeantwoord gelaat.

’n Driejarige, Helena Maliro, is ook in Junie in die Nyangana-distrikshospitaal dood terwyl vyf ander in die hospitaal opgeneem is nadat hulle maniok ingeneem het. Dis ’n plant wat giftig is as dit nie reg voorberei word nie.

’n Raadslid in dié kiesafdeling, Michael Kapota, het dié voorval bevestig en gesê diegene wat in die hospitaal opgeneem is, is sedertdien ontslaan.

Die direkteur van gesondheid in die Kavango-Oosstreek, Idah Mendai, het destyds aan NMH gesê ’n verslag oor Maliro se dood is aan Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur van gesondheid, voorgelê. Die verslag het egter nie die oorsaak van haar dood gespesifiseer nie en is nie bekend gemaak nie.



DEURSIGTIGHEID

Die onverklaarbare dood van ’n gesin van 15 verlede jaar in die Kavango-Oosstreek bly ook onopgelos.

Tydens ’n nasionale begrotingsessie verlede jaar het Josef Kauandenge, die sekretaris-generaal van die National Unity Democratic Organisation (Nudo), die ministerie van geslagsgelykheid gekritiseer omdat hulle die toetsuitslae van die laboratorium weerhou het.

“Dit is hoog tyd dat hierdie verslag openbaar gemaak word sodat die afgestorwe siele in vrede kan rus,” het Kauandenge gesê.

Hy het ook bevraagteken watter maatreëls die ministerie in plek gesit het om toekomstige voorvalle te voorkom en voedselveiligheid in die streek te verseker.

Kauandenge het die ministerie aangemoedig om die verslag vry te stel en gesê dat deursigtigheid van uiterste belang is om verdere lewensverlies te voorkom.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!