550 Prosedures verseker kinderglimlaggies

Rita Kakelo
Tyra Mhuruyengwe en Genesis Classen se glimlaggies is aansteeklik en breed en in skrille kontras met die teendeel voor die Nampharm-stigting, danksy hul onbaatsugtige diens en met lewensveranderende operasies, dié twee meisies se lewens onherroeplik en positief verander het.

Tyra en Genesis is net twee begunstigdes van die 550 gratis suksesvolle rekonstruktiewe operasies vir Namibiese kinders met gesplete lippe en gesplete verhemeltes wat die stigting die afgelope 19 jaar in samewerking met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste kon uitvoer.

Boonop het die twee sleutelrolspelers en verteenwoordig deur stigtersdirekteur, Frederik van der Walt, en die ministerie se adjunk- uitvoerende direkteur, Jeremia Nghipundjwa, Vrydag hul Memorandum van Verstandhouding vir vyf jaar hernu, wat hul vermoë verbeter het om meer kinders met gesiggestremdhede by te staan.

In ’n toespraak wat namens die ministerie se uitvoerende direkteur, Ben Nangombe, voorgelees is, het Nghipundjwa beklemtoon dat die unieke vennootskap die gees van deernis, toewyding en ’n kollektiewe poging tot ’n gemeenskaplike doelwit weerspieël.

“Die verbetering van ons samelewing begin met die hulp van kinders wat rekonstruktiewe gesigchirurgie benodig,” aldus Nangombe.

Die operasies word elke Woensdag by die Rhinopark-hospitaal deur ’n span vrywillige mediese spesialiste van Namibië uitgevoer, wat ’n plastiese chirurg, narkotiseur, ortodontis, tandarts, spraakterapeut en pediater, sowel as ’n kaakchirurg insluit.

Volgens die stigting se beskermvrou en voormalige presidentsvrou Penehupifo Pohamba het die stigting verlede jaar ook sy maatskaplike welsynsertifikaat ontvang.

“Dis ’n beduidende ontwikkeling wat die stigting in staat stel om skenkings van ’n wye reeks skenkers te ontvang, insluitend die publiek, korportatiewe entiteite asook internasionale skenkers,” het Pohamba gesê.

Die stigting het op sy beurt sy dankbaarheid uitgespreek teenoor skenkers wat ’n beduidende rol gespeel het om Namibiese kinders wat geraak word se lewens te verander.

Die stigting bied nou danksy sy borge ook holistiese sorg om te verseker dat elke kind ten volle in die samelewing opgeneem word.

In Namibië is die werklike oorsaak van dié geboortedefekte onbekend. ’n Moontlike oorsaak kan die gebrek aan voorgeboortelike sorg wees wat daartoe lei dat swanger vrou nie foliensuur inneem nie. In sommige kulture kan huwelike tussen families ook ’n faktor wees. Nog ’n moontlike rede is dat die defekte oorerflik kan wees.

’n Kind se gesplete lip moet ideaal gesproke rondom die ouderdom van drie maande herstel word, en ’n gesplete verhemelte moet voor die ouderdom van een jaar herstel word.

Soos die kind groei, kan bykomende operasies nodig wees om hulle te help om uitdagings met spraak en voeding te oorkom.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

#N/A #REF! #N/A