Adjunkminister van inligting en kommunikasietegnologie me. Emma Theofelus.
Foto argief
Adjunkminister van inligting en kommunikasietegnologie me. Emma Theofelus. Foto argief

Adjunkminister kry erkenning van VN

Theofilus ontvang bevolkingstoekenning
Me. Emma Theofelus is 'n kampvegter vir vrouebemagtiging, seksuele veiligheid en bekostigbare higiëniese produkte.
Augetto Graig
Die Verenigde Nasies (VN) se 2022 Bevolkings-toekenning is gister aan Namibië se adjunkminister van inligting en kommunikasietegnologie, me. Emma Theofilus, in New York toegeken.

Die toekenning is in 1981 gevestig en word aan individue en instansies oorhandig wat bevolkingskwessies uitlig en takel.

Theofilus is spesifiek vir haar werk vir vrouebemagtiging en tiener seksuele en reproduktiewe gesondheid in Namibië geprys.

Die adjunkminister is in 1996 gebore, en is op 23-jarige ouderdom een van Afrika se jongste parlementslede.

Sy het haar ervaring as 'n kampvegter vir seksuele en reproduktiewe gesondheid gebruik om die land se jongmense direk te benader, volgens die VN.

As adjunkminister het sy Namibië se openbare kommunikasieveldtog oor Covid-19-voorkoming gelei, en as 'n parlementslid het haar mosie dit moontlik gemaak om higiëniese produkte vir vroue as 'n belastingvrye kommoditeit te identifiseer.

Hoewel die regering al verlede jaar die besluit geneem het om nie meer belasting op dié produkte te hef nie, kon die Namibiese Inkomste-agentskap (NamRA) gistermiddag nie vrae beantwoord of en wanneer die heffing van dié belasting beëindig is nie, en vrae is na die ministerie van finansies verwys.

Theofilus sê egter die afskaffing van belasting op sanitêre doekies sal binnekort ’n werklikheid word.

Voor haar aanstelling as adjunkminister was sy 'n lid van die Namibiese afdeling van AfriYAN, 'n jeugorganisasie waar sy baanbreker-inisiatiewe gelei het om tienerswangerskap te beveg en jongmense se seksuele en reproduktiewe gesondheid te beskerm.

Die toekenning is vir haar toewyding tot die bevordering van vrouebemagtiging; haar teenstand tot skadelike geslagstereotipes en hindernisse teenoor vroue; as ’n kampvegter vir tiener seksuele gesondheid; en vir haar baanbrekerswerk om die boodskap vir die bekamping van die Covid-19-pandemie in Namibië teë te staan, te versprei.

Dít volgens die uitvoerende direkteur van die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds (UNPFA), dr. Natalia Kanem.

Kanem het sewe lidlande se verteenwoordigers gelei om Theofilus uit sewe kandidate te verkies.

By die virtuele geleentheid het Theofilus in haar toespraak haar eerste ervaring van menstruasie gedeel wat steeds as ’n skok gekom het, ten spyte van haar skoolkennis daarvan en haar ouers se leiding. Sy het oor ook oor die skaamte daaroor gepraat.

“En dink jouself in, dit was ek, met die hulpmiddels om elke maand veilig my menstruasie te kan bestuur. Wat van die jong vroue en meisies wat nie daardie voorreg het nie?”

Sy was geskok en hartseer toe sy besef het nie almal het toegang tot die geriewe gehad nie, sê sy.

“My verstand kon dit nie verwerk nie, toe maak ek seker ek vat elke dag ’n pak doekies saam skool toe,” het sy gesê.

Theofilus is net so passievol oor tienerswangerskap.

“Of ons daarvan hou of nie, tieners het seks,” sê sy. “Wat van belang is, is om hulle die hulpmiddels te bied om veilige seks te hê en veilige keuses te maak.”

Sy moedig jong moeders aan om terug skool toe te gaan as hulle swanger raak.

Sy het die impak van menstruasie op meisies se skoolloopbane benadruk en die term “maandstonde armoede” gebruik om die negatiewe impak van ’n tekort aan higiëniese produkte op meisies en vrouens te beskryf.

Sy sê sy sal haar pogings tot die uitwissing van dié armoede in Namibië en Afrika verdubbel.

“Ek dra my toekenning op aan die vroue van Namibië en die vroue van Afrika vir hul moed om te bestaan in ’n wêreld wat hulle nie eerste plaas nie,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!