Ambulanstekort stel lewens in gevaar
Neem ure om afgeleë gebiede te bereik
Inwoners in die landelike gebiede van die Kavangostreke moet noodgedwonge honderde dollars opdok om die naaste gesondheidsorgfasiliteit te besoek.
Kenya Kambowe en Nikanor Nangolo - Noodsaaklike gesondheidsorgdienste blyk ’n luukse te wees vir pasiënte in die landelike gebiede van die Kavangostreke wat kritiek siek is, met ’n paar wat noodgedwonge honderde dollars moet opdok om na die naaste gesondheidsorgfasiliteit te ry.
Die alternatief? Wag vir ’n ambulans wat tot vyf uur kan neem om te arriveer, indien enigsins.
’n Siek persoon van Karukuvisa in die Kavango-Wesstreek moet N$180 betaal vir ’n retoerrit van 100 kilometer na die naaste kliniek by die dorpie Gcwatjinga.
Gcwatjinga is sowat 80 kilometer van Rundu af.
Diegene wat nie kan bekostig om te ryloop nie, het geen ander keuse as om donkies of osse voor die wa in te span om by die naaste gesondheidsorgfasiliteit uit te kom nie.
DUUR REISE
Ons susterkoerant Namibian Sun berig al jare lank oor die gebrek aan ambulanse in die streke, met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste wat oënskynlik huiwerig is om dié behoefte te takel.
In 2019 is ’n artikel gepubliseer oor inwoners van die dorpie Mururani wat staatmaak op ’n mobiele kliniek wat net twee keer per week oopmaak, terwyl ’n ambulans wat veronderstel is om die gebied te bedien, 130 kilometer verder in Rundu gestasioneer is.
Voor die stigting van die mobiele kliniek in 2017 moes die inwoners sowat 30 kilometer na die Katjinakatji- of Mpora-kliniek reis.
Vir komplekse mediese kwessies moet dorpenaars steeds sowat 130 kilometer na óf Rundu óf Grootfontein reis, terwyl hulle honderde dollars aan vervoerkoste bestee.
Mangetti-inwoners word gedwing om sowat 100 kilometer te reis vir behandeling by die Katjinakatji-kliniek.
Om hospitale in Rundu of Grootfontein te besoek beteken hierdie inwoners moet 200 kilometer reis en die gepaardgaande koste betaal.
DESPERATE TYE
Namibian Sun het in 2020 berig oor Maria Kandere van die dorpie Suni in die Kavango-Wesstreek – wat destyds siek was – wat in ’n kano vervoer is wat deur beeste getrek is.
Sy was op pad terug van die Sikarosompo-kliniek waar sy behandeling ontvang het.
Dié kliniek is sowat 12 kilometer vanaf Suni en sowat 30 kilometer suid van Nkurenkuru geleë.
Volgens Kandere se familielid, wat destyds die beeste gelei het, het hulle omstreeks 06:00 die huis verlaat en die oggend om 11:00 by die kliniek aangekom.
In reaksie op vrae wat aan die ministerie gestuur is, het die gesondheidsdirekteur in die Kavango-Wesstreek, Franciska Hamutenya, erken daar is ’n ernstige behoefte aan ambulanse in die streek.
Sy het namens Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur van gesondheid, gesê: “Daar is ’n behoefte dat meer ambulanse aangeskaf moet word om voorsiening te maak vir afgeleë fasiliteite, soos die Gcwatjinga-, Erago- en Mpora-kliniek, en die fasiliteite onder die Lutherse mediese dienste, wat die Sikarosompo- en Muparara-kliniek is.
“Die Ncamagoro-distrik het een ambulans wat by die Mupini-gesondheidsentrum is, en dit is die ambulans wat die hele distrik bedien,” het sy bygevoeg.
Hamutenya het gesê weens die gebrek aan ’n distrikshospitaal in Ncamagoro, word verwysings na Rundu geneem, met ambulanse wat ure neem om afgeleë gebiede te bereik.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie