Die Oshakati-staatshospitaal. FOTO ARGIEF
Die Oshakati-staatshospitaal. FOTO ARGIEF

Baba sterf ná hoërisiko-swangerskap

Ouerpaar dagvaar ministerie, leerdokters en verpleegsters
Die klaer was sedert die aanvang van haar swangerskap 'n hoërisiko-pasiënt.
Henriette Lamprecht
’n Vrou moes normaal geboorte skenk in die Oshakati-staatshospitaal, ten spyte van die feit dat ’n ondersoek moontlike komplikasies uitgewys het en ’n noodkeisersnee eerder uitgevoer moes word.

Die baba is met die naelstring om haar nek gebore en is breindood verklaar.

Roman Joachim en Jakob Hafeni Ndafenongo van die Oikango-nedersetting in Ongwediva is die biologiese ouers van Suama Ingashipola Ndadenongo wat ses weke ná haar geboorte op 9 November verlede jaar dood is.

Buiten vir die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste en die superintendent van die Oshakati-staatshospitaal, dagvaar die ouers ook verskeie leerlingdokters en verpleegsters by die naam wat by Joachim se versorging en behandeling betrokke was.

Volgens die eedsverklaring het Joachim die middag van 17 September verlede jaar by die hospitaal aangemeld terwyl sy 38 weke en vier dae swanger was.

Sy is in die kraamafdeling opgeneem, nadat sy van bloeding gekla het en om kontraksies te monitor. Joachim was sedert die aanvang van haar swangerskap ’n hoërisiko-pasiënt omdat sy MIV-positief is en hoogs aktiewe antiretrovirale terapie (HAART) vir haar toestand ontvang. Sy het op die dag van haar opname in kraam gegaan, met haar baba se hartklop wat toe reeds op swak lewensvatbaarheid gedui het.

Die verpleegster het ook die moontlike voorkoms van Bandl se ring aangeteken – die abnormale aansluiting tussen die twee segmente van die baarmoeder, wat ’n laat teken van belemmerde kraam is. ’n Aantekening is ook gemaak dat die baba groot is en dat ’n noodkeisersnee nodig mag wees.

Die volgende dag het ’n sonar verkeerdelik gewys die baba weeg sowat 3,4 kg. Joachim het glo by ’n leerlingdokter, ene dr. Udjambala, gesmeek dat die baba met die hulp van ’n keisersnee gebore moet word. Sy [die dokter] het na bewering gesê “ander protokol moet vir teater gevolg word” en dat sy nie oortuig was van die voorkoms van Bandl se ring nie.

Joachim se babadogter is normaal gebore met die naelstring om haar nek en het 4,2 kg geweeg. Sy het nie spontaan gehuil nie en het geen reaksie op stimulasie getoon nie. Die baba is in die pediatriese eenheid opgeneem en en nadat sy vir weke in ’n koma was, het sy op 9 November gesterf.

Joachim het tydens die normale geboorte geskeur en haar skaamgewrig het meer as 10 mm verbreed. Laasgenoemde word beskou as ’n komplikasie van ’n vaginale bevalling en as gevolg hiervan het sy intense pyn en ongemak ervaar. Sy moes gevolglik twee maande in die hospitaal deurbring en is eers op 10 November in ’n rolstoel ontslaan.

Volgens die eedsverklaring ervaar sy steeds geweldige pyn en kan sy nie sonder die hulp van ’n loopraam stap nie. Sy kan ook nie meer haar beroep as gesondheidsassistent by die Eluwa-kliniek in Ongwediva beoefen nie.

Die ouerpaar eis gesamentlik meer as N$2,9 miljoen vir onder meer pyn en lyding.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!