FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Bankmed: Verhogings, bybetalings moet help red

Reserwevlak staan op 10%
'n Ondersoek moet bepaal wat is die lewensvatbaarheid van 'n moontlike oordrag van Bankmed-lede na 'n ander mediese fonds.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Een van Namibië se grootste banke het na bewering aangedui hy gaan sy werknemers van sy mediese fonds onttrek, sou ’n verhoging van 10% in maandelikse bydraes met ingang 1 Julie voortgaan.

Volgens beamptes het First National Bank (FNB) dit glo duidelik gemaak die bank aanvaar nie Bankmed se verhoging nie en dat dit dan eerder van die fonds sal onttrek.

Volgens bronne kan dit beteken Bankmed wat reeds steier, sal noodgedwonge moet likwideer, sou die land se grootste bank die mediese fonds verlaat.

Geen besluit is egter nog in dié verband geneem nie, maar duidelikheid hieroor sal na verwagting tydens die fonds se jaarlikse algemene vergadering wat belê is vir volgende maand, verskaf word.

FirstRand Namibia se hoofbemarkingsbeampte, Tracy Eagles, het by navraag gesê FNB Namibia is bewus van die situasie by Bankmed en interne konsultasies het reeds begin.

"Ons kyk na ons opsies en sal doen wat in die beste belang van ons werknemers is. Ons het reeds vergaderings met ons personeel in dié verband gehad en nog interne gesprekke gaan voort. Die kruks van die saak is ons sal doen wat die beste vir ons werknemers is," het sy gister gesê.

Die 10%-verhoging deur die mediese fonds is een van verskeie maatreëls om Bankmed se volhoubaarheid te probeer verseker en wie se reserwevlak op 31 Maart op slegs 10% gestaan het.

Die Namibiese toesighoudende owerheid vir finansiële instellings (Namfisa) vereis dat ’n mediese fonds ’n solvensiekoers en reserwevlak van ten minste 25% moet hê.

Die afgelope ses jaar het Bankmed se vlak van 53% tot 16% verlede jaar en die huidige 10% teen einde Maart vanjaar gedaal. Die grootste redes hiervoor was die oorgebruik van voordele deur lede en verskaffers van gesondheidsdienste wat hoër as die begrotingsverwagting was.

Buiten die 10%-verhoging in maandelikse bydraes, sluit die maatreëls onder meer ’n moontlike oordrag van alle Bankmed-lede na een van die oop mediese fondse in Namibië in.

Bankmed het Prognosys Actuaries and Consultants aangestel om ’n onafhanklike evaluering van die volhoubaarheid van die fonds te doen en raad te gee oor die lewensvatbaarheid om lede na ’n ander mediese fonds oor te dra.

Ander maatreëls sluit in die aanpassing van voordele met verhoogde bybetalings, alle voordele vir die res van die jaar pro rata uit te betaal, asook die implementering van ’n bybetaling vir medikasie vir pensioenarisse.

In ’n brief aan Bankmed-lede gedateer 22 Mei, sê die mediese fonds by monde van sy hoofbeampte, Elize Fahl, asook die voorsitter, André Smit, werkgewersgroepe het ’n komitee van verteenwoordigers op die been gebring wat in gesprek is met die raad van trustees. Die maatreëls is in plek gestel ná konsultasie tussen die raad en die werkgewersgroep se komitee van verteenwoordigers. Die brief beklemtoon daar is geen rede vir lede om paniekerig te raak nie, nog is daar nie enige rede om te probeer eis vir onnodige medikasie nie omdat alle eise uitbetaal sal word.

Eise word ook noukeurig deur die raad van trustees gemonitor om oorgebruik, bedrog, vermorsing en misbruik hok te slaan. Dit maan enige eise wat identifiseer word as bogenoemde sal nie uitbetaal word nie, terwyl ondersoek ook ingestel sal word. Die werkgewersgroep sal in kennis gestel word, terwyl die fonds gepaste stappe teen die lid of diensverskaffer sal neem.

“Dit is belangrik dat lede oorweging skenk aan hul mediese eise en sorg aan die dag lê wanneer hulle besluit om ’n diensverskaffer of gesondheidsgeriewe te besoek of eis vir medikasie. Dit is om te verseker dat slegs dié wat ’n mediese noodsaaklikheid is, uitgevoer of versprei word,” lui die brief.

Die Vereniging vir Namibiese Mediese Fondse (Namaf) het vroeër gewaarsku gevaarligte flikker vir mediese fondse omdat meer geld aan eise bestee word in vergelyking met die bydraes wat oor die laaste ses maande in die laaste kwartaal van 2022 en die eerste kwartaal van dié jaar ingesamel is.

Volgens Uatavi Mbai, bestuurder vir korporatiewe kommunikasie en belangegroepverhoudings, is die ervaring tans dat mediese fondse voortgeset hulle tot hul reserwes wend om voordele vir gesondheidsorg te finansier wat nie in die medium of lang termyn volhoubaar is nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!