Foto ter illustrasie, Pexels
Foto ter illustrasie, Pexels

Besluit oor tariewe ‘eensydig, onwettig’

Poging om volhoubaarheid van bedryf te verseker
Die besluit om nie standaardtariewe te verhoog nie, is sonder enige konsultasie met mediesefondslede of diensverskaffers geneem, sê 'n forum van private gesondheidsdiensverskaffers.
Henriette Lamprecht
Die Vereniging van Namibiese Mediese Fondse (Namaf) se aankondiging dat 2023 se standaardtariewe tot ten minste die einde van die eerste kwartaal in 2024 – en moontlik langer – onveranderd sal bly, is in wese ’n verlaging van lede se voordele omdat fondse nie lede vir mediese inflasie sal vergoed nie.

Mediese inflasie word grootliks aangedryf deur eksterne faktore. Sommige mediese fondse het reeds aangedui lede se bydraes styg met byna 11% – onderhewig aan goedkeuring van die Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings in Namibië (Namfisa).

Die Namibiese Private Praktisynsforum (NPPF) beraadslaag tans met die breër private gesondheidsorgbedryf om die registrateur van mediese fondse (Namfisa) te versoek om Namaf en mediese fondse nie toe te laat om met sy “onwettige optrede” voort te gaan en lede se voordele op ’n “slinkse manier” te verminder nie.

Die NPPF het in reaksie op ’n brief aan gesondheidsdiensverskaffers gesê kostetendense en die gevolglike impak op die finansiële volhoubaarheid van fondse met die verhoging van die tariewe sou onverantwoordelik wees sonder die oorweging van verskeie ingrypings of strategieë.

Namaf sê in die brief by monde van sy uitvoerende hoof, Steve Tjiuoro, dié strategieë is kompleks om te ontwikkel en te implementeer en ’n geleidelike benadering is nodig.

Met verwysing na veral bestuurstrategieë vir verbruik waar verskaffers uitgenooi sal word om te help om gesondheidsinflasie te bestuur, sê Tjiuoro die doel is om programme te ontwikkel waar verskaffers en praktisyns wat hulle daartoe verbind om aktiewe bydraes te maak, aansporings sal ontvang.

Vanjaar se tariewe bly dus onveranderd totdat die beoogde bestuurstrategieë geïmplementeer is en om die volhoubaarheid van ’n bedryf te verseker wat van diensverskaffing tot finansiering insluit.

Die NPPF sê egter die besluit is sonder enige konsultasieproses met mediesefondslede of diensverskaffers geneem. Die forum verwys ook na die implementering van twee opsies wat volgens dié model insluit dat mediese fondse hoër voordele aan lede betaal wie se diensverskaffers besluit om deel te wees van die fonds en minder voordele aan lede wie se verskaffers die teendeel kies.

“Verskaffers wat kies om deel van die fonds te wees word uiters beperk in die lig van watter tariewe hulle mag vra en onderwerp hulle onder andere aan ’n dissiplinêre proses deur Namaf,” sê die NPPF in ’n verklaring.

Die forum beskuldig Namaf ook daarvan dat hy poog om magte te verkry wat hy nie ingevolge sy bemagtigende wetgewing het nie. Dit sluit spesifiek magte in oor diensverskaffers en wat ten koste van lede van mediese fondse is.

“Namaf is ’n administratiewe liggaam en sy eensydige besluite en optrede sonder om lede of hul diensverskaffers te betrek, is ongrondwetlik en ’n oortreding van die reg tot regverdige administratiewe optrede soos vervat in bepaling 18 van die Grondwet.”

Die NPPF sê hy verwerp Namaf se magte om standaardtariewe vas te stel, so ook die besluit om lede se voordele te verminder deur fondse in staat te stel om dit nie vir 2024 te verhoog nie, “welwetend dat die inflasie van gesondheidsorg sal styg” en die verskaffers weinig beheer hieroor het. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!