Byna ’n miljard ly honger

Vroue die meeste geraak
Die wêreld beweeg al hoe verder weg van sy doelwit om teen 2030 hongersnood, gebrek aan voedselsekuriteit en wanvoeding te beëindig.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Meer as 828 miljoen mense het verlede jaar honger gely, ’n toename van 196 miljoen in gesamentlik 2020 en 2021 toe die Covid-19-pandemie die wêreld lamgelê het.

Dit is ’n duidelike bewys dat die wêreld toenemend al hoe verder wegbeweeg van sy doelwit om teen 2030 hongersnood, gebrek aan voedselsekuriteit en wanvoeding te beëindig

Volgens vanjaar se uitgawe van die “Stand van Voedsekuriteit en Voeding in die Wêreld” het die syfers aanvanklik sedert 2015 relatief onveranderd gebly, maar het dit met die fel aanslag van Covid-19 in 2020 beduidend gestyg tot 9,8% van die wêreld se bevolking in 2021 wat honger gely het.

Dit in vergelyking met onderskeidelik 8% in 2019 en 9,3% in 2020. Verlede jaar het sowat 2,3 miljard van die wêreld se inwoners (29,3%) matige tot ernstige voedselonsekerheid ervaar – 350 miljoen meer as voor die uitbreek van die pandemie. Met verwysing na ernstige voedselonsekerheid het dit byna 924 miljoen mense (11,7% van die wêreldbevolking) geraak; ’n toename van 207 miljoen in twee jaar.

Volgens die verslag word vroue die meeste geraak met 31,9% in vergelyking met die 27,6% van mans.

Die uitwerking van inflasie in verbruikerspryse weens die impak van die pandemie en gepaardgaande maatreëls, het gemaak dat meer as drie miljard mense nie ’n gesonde dieet in 2020 kon volg nie.

Die syfers vir kinders is skokkend, met ’n beraamde 45 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf wat deur die dodelikste vorm van wanvoeding geraak word. Laasgenoemde verhoog kinders se risiko om te sterf met tot 12 keer.

’n Chroniese gebrek aan noodsaaklike voedingstowwe in hul diëte het veroorsaak dat 149 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf jaar vertraagde groei getoon het, terwyl 39 miljoen ondergewig was.

Op ’n positiewe noot word vooruitgang gemaak op eksklusiewe borsvoeding met byna 44% van babas onder ses maande wêreldwyd wat in 2020 eksklusief geborsvoed is. Tog is dit steeds minder as die doelwit van 50% teen 2030.

Volgens die verslag is die grootste kommer dat twee uit elke drie kinders nie die minimum uiteenlopende dieet het wat nodig is om tot hul volle potensiaal te groei en te ontwikkel nie.

Volgens beramings sal 8% van die globale bevolking (sowat 670 miljoen mense) steeds in 2030 honger in die gesig staar, al word ’n wêreldwye ekonomiese herstel in oorweging geneem.

Die verslag maan die voortgesette oorlog in die Oekraïne wat twee van die grootste wêreldprodusente van stapelgraan, oliesade en kunsmis betrek, veroorsaak grootskaalse ontwrigting aan internasionale verskaffingskettings. Dit stoot weer die pryse van graan, kunsmis, energie sowel as gereed-vir-gebruik terapeutiese kos vir kinders wat aan ernstige wanvoeding ly.

Die oorlog volg nadat verskaffingskettings reeds negatief geraak is deur toenemende uiterste klimaatkwessies in veral lae-inkomstelande en wat potensieel verreikende gevolge vir globale voedselsekuriteit en voeding inhou.

Die verslag lig herhaaldelik die versterking van die grootste drywers van bogenoemde uit, naamlik konflik, klimaatuiterstes en ekonomiese skokke gekombineer met stygende ongelykhede. Die verslag maan dit gaan nie of teenspoed gaan voortduur of nie, maar hoe om veerkragtigheid teen toekomstige skokke te bou.

Met verwysing na ondersteuning vir die voedsel- en landbousektor teiken subsidies dikwels die produksie van stapelvoedsel, melk en ander diereverwante produkte in veral hoë en hoër middelinkomstelande. Rys, suiker en verskillende soorte vleis is items wat wêreldwyd die meeste ondersteun word, terwyl vrugte en groente in veral sommige lae-inkomstelande relatief minder aftrek kry.

Regerings moet veral meer doen om handelstruikelblokke vir voedsame kossoorte soos vrugte, groente en peuelsoorte te verminder, maan die verslag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer