Carmen ploeg terug in Rehoboth

Open haar eie laboratorium
'n Inwoner van Rehoboth het op haar verjaardag haar droom verwesenlik om 'n laboratorium op die dorp te open.
Boet Matthews
Op haar 33ste verjaardag het ’n veldblom van Rehoboth besluit om ’n lewenslange droom te verwesenlik toe sy die tweede vrou in die land geword het om haar eie laboratorium by die Oanob Privaat Hospitaal op die dorp te open.

Carmen Britz het Saterdag ’n dubbeldoor gevier. Sy het die CJC Medical Lab vir die gemeenskap geopen en boonop haar verjaardag gevier.

Sy is ’n baanbreker vir die dorp se gemeenskap, en die saadjies wat Saterdag gesaai is gaan ver oor die grense van die Rehoboth-gebied in volle blom staan.

Haar nederigheid het in ’n roerende toespraak tydens die opening weerklank gevind in die feit dat sy haar pa, Koeler Britz, aan haar sy sou wou gehad het op dié groot dag.

Vir Carmen as mediese kundige was haar pa se dood nog meer tragies omdat hy die stryd op sy siekbed verloor het. Sy was sonder twyfel haar pa se oogappel.

Dr. Brisby Matunhure, die besturende direkteur van die Oanob Privaat Hospitaal, het tydens die opening van Carmen se laboratorium gesê: “Ek het een oggend vroeg in 2022 gesit en dink hoe kan ek ’n laboratorium by die hospitaal op die been bring. Nou ja, daardie bekende woorde ‘God verrig nog steeds wonderwerke’ het waar geword. Raai wie stap by my kantoor in. ’n Stralende Carmen Britz met ’n opgewonde uitroep: ‘Ek het my eie laboratorium’. Al wat ek kon sê was Thank You Lord for answering my Prayers.”

“Soos julle teen die tyd weet is die res geskiedenis. Ek glo ons gaan goed saamwerk en selfs na diegene buite die grense van Rehoboth voelers uitsteek.”

Me. Amanda Groenewaldt van die Rehoboth-stadsraad het namens haar kollegas by die opening van die laboratorium gesê: “Dis ’n geskiedkundige dag vir Rehoboth en sy duisende inwoners. Die gebeurtenis moet dien as aansporing vir ons jeug. Inderdaad ’n merkwaardige prestasie wat jy, Carmen Britz, behaal het. Mag God jou seën in dit wat jy aanpak. Onthou ook jou samewerking met ander partye in die land. Carmen Britz jy is ’n superstêr en verdien ons erkenning. Jy het jou mylpaal behaal en jy is inderdaad ’n goeie voorbeeld vir ander jong mense. Die laboratorium behoort ’n trekpleister te wees en is geoormerk vir groter ontwikkeling.”

Doer op Lüderitz het die burgemeester, mnr. Toes Junius, telefonies aan Republikein vertel.

“In hierdie moeilike tye waarin ons leef en sien, en ervaar hoe ons jeug sit op die moed-verloor heuwels is dit baie belangrik om rolmodelle in ons dorp te identifiseer. Soos wat Carmen Britz bewys het met haar eie laboratorium. Dit is voorwaar ’n stukkie geskiedenis en ek wens haar alle voorspoed toe. Ek is oortuig dat Carmen die vrugte sal pluk vir ’n goeie bydrae aan die breë gemeenskap op Rehoboth. ’n Diens wat jare terug in ons dorp noodsaaklik is en nou deur ons eie mense gelewer word.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer