'Die groot Psemas-dobbelspel'
“As die regering my na die Windhoek Sentrale Hospitaal dwing, wie gaan my sien? Ek het verlede jaar agt maande vir ’n afspraak met ’n spesialis gewag vir my ma wat ’n staatspasiënt is. Sy is dood voordat die afspraak kon realiseer.”
So sê ’n staatsamptenaar wat anoniem wou bly in ’n ondersoek deur rolspelers in die private gesondheidsbedryf na wat hulle verwys as “Die groot Psemas-dobbelspel”.
Die ondersoek verwys na ’n ondersoek deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste oor die stand van openbare gesondheidsgeriewe in die land. In September 2025 het die ondersoek verwys na infrastruktuur wat lek, ‘vermiste’ noodsaaklike voorrade wat ongebruik in store gevind is, onvoldoende standaarde vir higiëne en ’n oorlaaide werksmag. Skaars ses maande later en met 1 April wat al hoe nader kom wanneer lede van die staat se mediese fonds (Psemas) voortaan ook geriewe moet gebruik wat te lig bevind is, is die vraag hoe dit ’n bykomende 300 000 pasiënte sal kan hanteer.
“As die huidige openbare stelsel reeds bestaande pasiënte faal, is die absorbering van ’n verdere 300 000 nie hervorming nie,” vra die verslag.
Met verwysing na spesialiste verwys dit na baie van die spesialisdienste waartoe Psemas-lede tans toegang het, wat nie in staatshospitale bestaan nie. ’n Voorbeeld is Namibië se enigste toegewyde laboratorium vir hartkateterisasie wat in ’n private hospitaal is en met die land se eerste program vir transkateter aortaklep-inplanting (TAVI) wat in 2024 in die private sektor van stapel gestuur is.
“Deur hartpasiënte na staatsgeriewe te herlei, skep nie kardioloë of laboratoriums nie. Dit vat eenvoudig die finansieringsmeganisme weg wat hierdie pasiënte toegelaat het om die sorg te kry wat hul lewens gered het,” aldus die verslag.
Dit verwys na bestuur by staatshospitale wat dikwels as ondoeltreffend bestempel word en ’n kultuur van onverantwoordbaarheid wat maak dat senior bestuurders nie gedissiplineer of vervang word nie.
“Die instellings wat veronderstel is om 300 000 nuwe pasiënte te ontvang, word in baie gevalle bestuur deur mense wat misluk het in die bestuur van die pasiënte wat hulle reeds het.”
Sou korter wagtye, voorkeur vir afsprake en beter toegang tot apteke met voldoende medikasie vir Psemas-lede wag, skep die regering ’n tweevlakstelsel in sy eie staatshospitale, maan die verslag.
“As die werklose ma en die informele werker nog verder in die ry afgeskuif word om plek te maak vir staatsamptenare, is dit nie gelykheid nie. Dit is staatsgefinansierde diskriminasie teen die armste Namibiërs.”
Sou dieselfde vlak van sorg vir Psemas-lede en bestaande pasiënte geld, is die vraag wat die punt daarvan is om enigsins ’n mediese fonds te hê, sê die verslag.
“Psemas-lede gaan bydraes betaal vir ’n voordeel wat nie meer bestaan nie.”
Die regering se dryfveer om miljarde Namibiese dollar uit die private sektor na die openbare sektor te herlei, word ook bevraagteken.
Hospitaalkoste word gedryf deur onder meer mediese toerusting, chirurgiese verbruikersgoedere en inplantings wat markpryse het en wat dieselfde kos of dit privaat of deur die staat gekoop word.
“As die belofte aan Psemas-lede is dat hulle dieselfde kwaliteitsorg sal ontvang as in private sorg, sal dieselfde verbruikersgoedere, toerusting en medikasie teen dieselfde markpryse gekoop moet word.”
Staatshospitale sal ook digitale faktuur- en voorraadstelsels moet installeer, personeel hiervoor moet oplei, ’n kliniese koderingstelsel moet ontwikkel asook infrastruktuur vir die verwerking van eise wat private hospitale jare geneem het om te bou.
“Daar is nie ’n opsie waar die regering beter sorg vir minder geld kry nie, dit bestaan nie.”
Volgens die verslag is lidmaatskap van Psemas nie net ’n voordeel nie, maar is dit vir baie staatsamptenare die enkele mees waardevolle ding wat die regering aan hulle voorsien.
“Dit is die rede waarom hulle hul kind na ’n private dokter kan neem wanneer daar nie ’n pediater in die staatshospitaal is nie. Dit is die rede hoekom hulle ’n kankerdiagnose binne dae eerder as maande kan kry.”
Die verslag verwys ook na die moontlikheid dat die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) die werk van die administrateur Methealth oorneem wat kapasiteit en kundigheid oor ’n tydperk van meer as 20 jaar opgebou het.
“Wat gebeur tydens die oordrag? Sou daar net ’n gaping van drie maande wees in die verwerking van eise, word verskaffers nie betaal nie. Word hulle nie betaal nie, behandel hulle nie meer Psemas-pasiënte nie.”
Die verslag beklemtoon dit is nie teen hervorming nie en erken Psemas is “stukkend en moet herstel word”. Die pleidooi is dat die hervorming in fases en gebaseer op bewyse moet geskied. Dit sluit in die onmiddellike opdatering van Psemas-tariewe, die bou van kapasiteit by staatshospitale voordat pasiënte hierheen herlei word, die stig van ’n onafhanklike Psemas-bestuursraad, die takel van bedrog by die fonds, die afdank van onbevoegde hospitaal bestuurders asook om die kapasiteit vir spesialiste in die private sektor deur gestruktureerde private-openbare vennootskappe te behou.
“In plaas daarvan om die private sektor te vernietig, vat met hulle hande. Kontrakteer private spesialiste om sessies in staatshospitale te verskaf. Gebruik openbare fondse om private kapasiteit vir komplekse prosedures aan te koop wat die staat nie kan verskaf nie.”
’n Beroep word ook op die regering gedoen om die sperdatum van 1 April op die ys te plaas om onder meer eers ’n ordentlike lewensvatbaarheidstudie met onafhanklike kliniese en aktuariële kennis uit te voer.
“Behou die private sektor as ’n vennoot eerder as om dit as ’n vyand te behandel,” vra die verslag.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie