mufid-majnun-J12RfFH-2ZE-unsplash
mufid-majnun-J12RfFH-2ZE-unsplash

‘Die grootste verraad van ons tyd’

Net 8% van Afrika ingeënt
Ryk lande het in 2021 met korporatiewe reuse saamgesweer om mense met "leë slagspreuke en valse beloftes" te verblind.
Henriette Lamprecht
Die impak van die wêreldwye Covid-19 het die grootste tol van die mees gemarginaliseerde gemeenskappe in die wêreld, ingesluit dié in Afrika, geëis .

Amnestie Internasionaal verwys in sy jongste verslag na die vals beloftes van wêreldleiers vir ’n regverdige herstel om diepgesetelde ongelykhede te takel en die “absolute mislukking” van die globale gemeenskap en Afrika-unieleiers om dit te takel.

Ryk lande het in 2021 met korporatiewe reuse saamgesweer om mense met “leë slagspreuke en valse beloftes” te verblind, terwyl baie Afrika-inwoners nie lewensreddende entstowwe ontvang het nie. Dit word volgens die verslag as “een van die grootste verraad van ons tyd” bestempel.

Die verslag wat fokus op die stand van menseregte in die wêreld, sê ryk lande saam met korporatiewe reuse het ongelykhede erger gemaak, met die meeste Afrikalande wat sukkel om van die impak te herstel weens armoede en werkloosheid wat deur die ongelyke verspreiding van entstowwe vererger is.

“Covid-19 moes ’n beslissende wekroep gewees het om ongelykhede en armoede te takel. In plaas hiervan het ons groter ongelykhede en onstabiliteit in Afrika gesien wat deur globale magte vererger is wat misluk het om te verseker dat groot farmaseutiese maatskappye entstowwe in gelyke maat versprei om dieselfde vlak van herstel te verseker, sê mnr. Deprose Muchena, Amnestie Internasionaal se direkteur vir Oos- en Suidelike Afrika.

“Soos dinge nou lyk, gaan die meeste Afrikalande baie lank neem om van Covid-19 te herstel. Die nagevolge is ook die mees verwoestend vir die meeste gemarginaliseerde gemeenskappe, ingesluit dié in die voorste linies van endemiese armoede in van Angola, tot Zambië, Ethiopië en Somalië,” het hy gesê.

Teen die einde van verlede jaar was minder as 8% van die vasteland se 1,2 miljard inwoners ten volle ingeënt, met meer as 220 000 sterftes wat in 2021 aangeteken is.

Die verslag verwys na lidlande van die Europese Unie (EU), die Verenigde Koninkryk en Amerika wat meer voorrade as wat nodig was, opgegaar het. Dit terwyl hulle ander pad gekyk het toe groot farmaseutiese maatskappye winste voor mense gestel en geweier het om hul tegnologie te deel om ’n breër verspreiding van entstowwe te verseker.

Verlede jaar het Pfizer, BioNTech en Moderna hul winste op tot US$54 miljard beraam, tog het hulle minder as 2% van hul entstowwe aan lae-inkomstelande verskaf. Die verslag sê die verspreiding beweeg steeds teen ’n slakkepas en verhoog vrese vir ’n uitgerekte ekonomiese herstel.

“Ryk en middelinkomste lande het hul geld en hul politieke invloed gebruik om honderde miljoene dosisse te koop en het sodoende arm lande uit die mark gestoot,” sê mnr. Samira Daoud, direkteur vir Wes- en Sentraal-Afrika.

“Die gevolg was ’n ongelyke verdeling van broodnodige entstowwe wat beteken het die meeste mense in lae-inkomstelande word die laaste om ingeënt te word – asof ’n mens se finansiële status of nasionaliteit die kwalifiserende kriteria is om ingeënt te word,” het hy gesê.

Die pandemie het ook die vasteland se powere infrastruktuur vir gesondheidsorg blootgelê, terwyl die voorkoms van geslagsgeweld voortgaan om te styg.

Die verslag maan die verwoestende gevolge van die samespanning tussen Westerse regerings en farmaseutiese maatskappye is vererger deur gesondheidstelsels en ekonomiese en maatskaplike ondersteuning wat onder die gewig van dekades se verwaarlosing gesteier het.

Met minder as 8% van inwoners wat teen die einde van 2021 ten volle ingeënt was, is dit die laagste inentingskoers in die wêreld, grootliks weens onvoldoende voorrade wat deur Covax, die Afrika Entstofverkrygingstrust en bilaterale skenkings voorsien is.

Dikwels was voorrade onvoldoende en afleweringstye onvoorspelbaar wat dit moeilik vir regerings gemaak het om vertroue onder inwoners te bou en doeltreffende inentingsveldtogte van stapel te stuur. In lande soos Malawi en Suid-Soedan het entstowwe geland met kort vervaldatums en wat owerhede genoop het om dit te vernietig of dit terug te stuur om aan ander lande versprei te word.

Met verwysing na die stand van gesondheidstelsels op die vasteland, sê die verslag dié sektor is onder geweldige druk geplaas veral tydens die derde golf. Dit is verder ondermyn deur beweringe van korrupsie met betrekking tot Covid-19-fondse. Ook op die onderwysfront het ongelykhede met rasse skrede toegeneem, met tot 750 000 kinders wat in Suid-Afrika teen Mei verlede jaar die skool verlaat het, meer as drie keer die syfer voor die pandemie.

Groot kommer heers ook oor die styging in geslagsgeweld, beperkte toegang tot seksuele en reproduktiewe gesondheidsdienste, die volgehoue voorkoms van vroeë en gedwonge huwelike en die uitsluiting van swanger meisies van skole. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!