Die lank en die kort van lang-Covid

Ervaar simptome tot vir twee jaar en langer
Dit word al hoe duideliker dat die toestand 'n reuse-maatskaplike en ekonomiese las op individue, families en gemeenskappe plaas.
Henriette Lamprecht
Op 13 Maart vanjaar was dit vier jaar gelede dat die eerste twee Covid-19-gevalle in Namibië aangemeld is.

Enkele dae nadat ’n paartjie op besoek uit Romenië positief vir die siekte getoets het, is ’n noodtoestand op 17 Maart 2020 in die land verklaar.

Die land en die wêreld was op sy kop gekeer, maar meer as vier jaar later blyk die geslote grense, drankwinkels en verlate strate weens intensiewe inperkings vir baie ’n vae herinnering te wees van ’n tyd van verlies op vele vlakke wat hulle eerder agter hulle wil laat.

Vir vele wat die virus onder lede gehad het, sommige meer as een keer, bly die nagevolge egter iets wat steeds hul daaglikse lewens beïnvloed en ’n duidelike merk op hul gesondheid gelaat het.

Volgens ’n verklaring deur die University of California San Francisco (UCSF) kan die Covid-19-virus volgens nuwe navorsing in die bloed en weefsels van pasiënte bly vir meer as ’n jaar nadat die akute fase van die siekte geëindig het. Die studie kan daarom moontlik potensiële leidrade gee oor waarom sommige mense lang-Covid ontwikkel.

Volgens die wetenskaplikes is stukkies van SARS-Cov-2, ofte wel Covid-antigene, in die bloed gevind tot 14 maande ná besmetting.

Dr. Michael Peluso, ’n navorser van aansteeklike siektes verbonde aan die UCSF se Medisyneskool en ook studieleier, sê die twee studies het van die sterkste bewyse tot dusver gelewer dat Covid-antigene in sommige mense kan voortduur, selfs al het hulle normale immuunreaksies.

Sy span het ook ’n navorsingstuk in die gerekende mediese joernaal Science Translational Medicine publiseer wat gevind het die virus dupliseer in weefsels vir tot twee jaar ná infeksie, insluitend by mense met lang-Covid.

Volgens UCSF is vroeër in die pandemie gedink Covid-19 is ’n verbygaande siekte, maar ’n groeiende aantal pasiënte, selfs diegene wat vroeër gesond was, toon steeds simptome soos breinwasigheid (brain fog), spysverteringsprobleme en vaskulêre probleme, vir maande of selfs jare daarna.

Peluso sê egter meer navorsing is nodig om vas te stel of die volharding van antigene of fragmente lang-Covid en gepaardgaande risiko’s soos hartaanvalle en beroertes veroorsaak.

In nog ’n navorsingstuk wat in The Lancet gepubliseer is, het navorsers van die universiteite van Oxford, Leeds en Arizona tientalle vorige studies oor lang-Covid ontleed om die aantal en omvang van mense wat geraak word, die onderliggende meganismes van siekte, die talle simptome wat pasiënte ontwikkel, asook huidige en toekomstige behandelings, te ondersoek.

Lang-Covid, ook bekend as post-Covid-19, word oor die algemeen gedefinieer as simptome wat vir drie maande of langer voortduur ná akute Covid-19.

Die toestand kan verskeie orgaanstelsels aantas en beskadig, wat weer lei tot ernstige en langdurige verswakte funksies en ’n wye reeks simptome, insluitend moegheid, kognitiewe inkorting, asemloosheid en pyn.

Navorsers sê lang-Covid kan byna enigiemand raak – alle ouderdomsgroepe en ook kinders. Vroue is effens meer geneig as mans om geraak te word.

Die navorsingstuk in The Lancet het op die Britse bevolking gefokus waar lang-Covid ’n geskatte 1,8% van Britte raak, met 71% van mense met die toestand wat dit nou reeds vir meer as ’n jaar het.

Die studie het ’n wye reeks biologiese meganismes gevind wat by die toestand betrokke is en wat insluit die oorspronklike virus wat in die liggaam bly, die ontwrigting van die normale immuunreaksie asook mikroskopiese bloedstolling, selfs in sommige mense wat net matige aanvanklike infeksie gehad het.

Die betrokke studie in The Lancet maan daar is nog nie bewese behandelings vir lang-Covid nie en die huidige bestuur van die toestand fokus op maniere om simptome te verlig en rehabilitasie te verskaf.

Dit verwys ook na die dringende behoefte om biomerkers (bv. bloedtoetse) te ontwikkel en te toets om lang-Covid te diagnoseer en te monitor en om terapieë te vind wat die kernoorsaak van die toestand vind.

Trisha Greenhalgh, ’n professor in primêresorg-gesondheidswetenskappe verbonde aan Oxford se Nuffield-departement, beskryf lang-Covid as ’n “’n treurige toestand”, maar sê ook daar is wel gronde vir versigtige optimisme.

Sy verwys na verskeie meganisme-gebaseerde behandelings wat in navorsingsproewe getoets word en wat, indien dit as suksesvol bewys word, medici in staat sal stel om subgroepe mense met spesifike terapieë te kan behandel.

“Dit word al hoe duideliker dat lang Covid ’n reuse- maatskaplike en ekonomiese las op individue, families en gemeenskappe plaas.

“Ons moet veral beter maniere vind om daardie mense te behandel wat al twee jaar of langer ongesteld is en wie se lewens heeltemal op sy kop gekeer is.



BLOKKIE

Die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) beskryf lang-Covid as:

* ’n ernstige siekte wat kan lei tot chroniese toestande wat omvattende sorg vereis.

* ’n wye reeks voortgesette simptome en toestande wat weke, maande of selfs jare ná ’n Covid-19-infeksie kan duur;

* enigiemand wat ’n SARS-CoV-2-infeksie gehad het, die virus wat Covid-19 veroorsaak, kan lang-Covid ervaar, insluitend kinders.

Mense met lang-Covid kan ’n wye verskeidenheid simptome ervaar, wat wissel van matig tot baie ernstig en wat soortgelyk aan ander siektes kan wees.

Sommige mense kan gesondheidsprobleme ervaar van verskillende tipes en kombinasies van simptome wat

a) moeilik kan wees om te erken of te diagnoseer;

b) omvattende sorg vereis;

en c) tot gestremdheid kan lei



ALGEMENE SIMPTOME:

* Moeg- of tamheid wat by jou daaglikse take inmeng

* Simptome wat vererger ná fisieke of geestelike inspanning.

* Koors

* Respiratoriese en hartsimptome

* Moeilike asemhaling of kortasem

* Hoes

* Borspyn

* Hartkloppings



NEUROLOGIESE SIMPTOME:

* Sukkel om te dink of te konsentreer

* Hoofpyne

* Slaapprobleme

* Duiseligheid wanneer jy opstaan ??(lighoofdigheid)

* Spelde-en-naalde-gevoel

* Verandering in reuk of smaak

* Depressie of angs

* Spysverteringsimptome

* Diarree

* Maagpyn

* Hardlywigheid



ANDER SIMPTOME:

* Gewrigs- of spierpyn

* Uitslag

* Veranderinge in menstruele siklusse.

Kommentaar

Republikein 2024-12-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 28° Rundu: 21° | 33° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 20° | 36° Tsumeb: 21° | 31° Otjiwarongo: 19° | 32° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 19° | 31° Gobabis: 20° | 32° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 19° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 17° | 34° Keetmanshoop: 16° | 34° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 15° | 34° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 31° Lubumbashi: 17° | 21° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 17° | 29° Antananarivo: 16° | 28° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 37° Windhoek: 19° | 31° Cape Town: 18° | 24° Durban: 22° | 31° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 26° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!