Eerste haaroorplanting is suksesvol

Aesthetics Centre Olympia maak geskiedenis
Lede van die gesondheidsbedryf poog om Namibië 'n spilpunt vir mediese toerisme te maak.
Kristien Kruger
Plaaslike gesondheidsorg het onlangs ’n groot mylpaal bereik deur die land se eerste haaroorplantingsoperasie uit te voer.

’n Bekwame span Namibiese dokters het omvattend opleiding ontvang van die wêreldbekende haaroorplantingschirurg, dr. Pradip R. Atodaria, van Surat, Indië. Dr. Natasha Slabbert, dr. La-Toya Mwoombola-Hamutenya, en estetikus Esmarie Smit was deel van hierdie operasie wat op 26 September by die Aesthetics Centre Olympia plaasgevind het.

“Ons doelwit is om te verseker dat Namibiërs toegang het tot wêreldklas mediese prosedures in hulle eie land,” het dr. Jonathan Joffe, oogarts en eienaar van die mediese geriewe by Olympia Eye Laser Centre gesê waar die prosedures plaasgevind het.

“Deur plaaslike professionele persone op te lei, bou ons ook langtermyn-kapasiteit vir hoë gehaltesorg en baan ons die weg vir Namibië om ’n spilpunt vir mediese toerisme te word.”

Die uitvoer van hierdie operasie, en ook soortgelyke operasies, bevorder die plaaslike verskaffing van mediese behandeling. Pasiënte sal dus nie duur en tydrowende behandeling in die buiteland hoef te soek nie.

Volgens ’n verklaring van die Emoneko-groep, waaronder die Aesthetics Centre Olympia funksioneer, bied die beskikbaarheid van hierdie dienste in Namibië ook die potensiaal om pasiënte uit buurlande te lok. Dit sal Namibië na verwagting posisioneer as 'n bestemming vir hoë gehalte, bekostigbare mediese sorg.

PROSEDURE

Die span het gespesialiseerde opleiding in die gevorderde tegniek, bekend as Follicular Unit Extraction (FUE), ondergaan. Dié metode is minimaal indringend in die herstel van iemand se hare en behels die onttrekking en inplanting van individuele haarfollikels, wat natuurlike resultate met min littekens lewer.

Tydens haaroorplanting word klein eenhede van weefsel vanaf ’n area op die kop wat natuurlik minder geneig is om bles te raak (gewoonlik van die agterkant van die kop), na die bles-area oorgeplant.

Tydens Namibië se eerste operasie is sowat 1 200 haarweefselsegmente (hair grafts) – wat gewoonlik een tot vier haarsakkies bevat – oorgeplant. Verdere oorplantings is in daaropvolgende dae uitgevoer. Dit sluit in die oorplanting van tot 3 000 weefselsegmente oor drie dae.

“Die sukses van die prosedure is moontlik gemaak deur die kollektiewe kundigheid van die plaaslike span met die bystand van geregistreerde verpleegsters, Jacobina Nampala en Armas Shifotoka,” lui die verklaring.

HUPSTOOT

Dié operasie word ook beskou as ’n merkwaardige hupstoot vir plaaslike kundigheid en pasiëntbemagtiging.

“Die bekendstelling van haaroorplantingsdienste in Namibië bemagtig nie net plaaslike professionele persone nie, maar bied ook nuwe hoop aan Namibiërs wat aan haarverlies ly. Haarverlies kan 'n groot impak hê op iemand se selfbeeld en emosionele welstand. Hierdie diens bied 'n broodnodige oplossing vir pasiënte wat doeltreffende behandelings soek sonder om na die buiteland te reis.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-10-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 16° | 36° Rundu: 18° | 37° Eenhana: 20° | 38° Oshakati: 21° | 37° Ruacana: 20° | 38° Tsumeb: 21° | 35° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 22° | 37° Windhoek: 19° | 34° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 14° | 20° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 04:48, High tide: 11:26, Low Tide: 17:44, High tide: 00:02 Swakopmund: 14° | 17° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 04:46, High tide: 11:24, Low Tide: 17:42, High tide: 00:00 Walvis Bay: 15° | 28° Wind speed: 37km/h, Wind direction: SW, Low tide: 04:46, High tide: 11:23, Low Tide: 17:42, High tide: 23:59 Rehoboth: 19° | 35° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 29° Ariamsvlei: 24° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 20° | 37° Lubumbashi: 18° | 32° Mbabane: 16° | 32° Maseru: 16° | 33° Antananarivo: 11° | 28° Lilongwe: 20° | 30° Maputo: 19° | 30° Windhoek: 19° | 34° Cape Town: 14° | 23° Durban: 18° | 23° Johannesburg: 20° | 33° Dar es Salaam: 24° | 30° Lusaka: 19° | 31° Harare: 16° | 29° #N/A #N/A