FOTO PEXELS
FOTO PEXELS

'Erken elke persoon se menseregte'

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die handhawing van die menseregte van elke persoon wat met MIV/vigs saamleef of ’n risiko vir die siekte het, is noodsaaklik om vigs teen 2030 te beëindig.

Met Wêreldvigsdag wat Sondag gevier word, het Namibië in 2023 sowat 230 000 mense gehad wat met MIV saamleef, met ’n voorkomskoers van 9,7% onder volwassenes tussen die ouderdomme van 15 tot 49 jaar.

Vroue word die meeste geraak en maak 65% uit van diegene wat met MIV saamleef en 4 000 (67%) van die 6 000 nuwe infeksies.

Volgens dr. Medhin Tsehaiu, adjunk-streekdirekteur vir UNAIDS se streekkantoor vir Oos- en suidelike Afrika verhoog geslagsgebaseerde geweld die kwesbaarheid vir MIV.

“Namibië staar beduidende uitdagings met geslagsgebaseerde geweld (GBV) in die gesig, wat ’n direkte impak op die MIV-pandemie het,” het hy gemaan.

Byna 35% van vroue ervaar geweld en of seksuele geweld aan die hand van ’n intieme maat, met die geweld wat nie net hul fisieke en geestelike gesondheid raak nie, maar ook hul kwesbaarheid tot MIV-infeksie verhoog, sê Tsehaiu.

“Die weerhouding van onderrig en inligting verhoog die risiko. Daar is ’n dringende behoefte om in meisies se onderrig te belê en omvattende seksuele onderrig te verskaf, ’n kritieke komponent van MIV-voorkoming.”

Struikelblokke tot gesondheid moet afgebreek word, beklemtoon hy, met baie lande wat steeds wette het wat jongmense daarvan weerhou om getoets te word om hul MIV-status te bepaal, tensy hulle toestemming van hul ouers het.

“Dit skrik jongmense af en lei daartoe dat talle jongmense onbewus is van hul MIV-status.”

Tsehaiu het Namibië geloof vir sy ondersteunende wette vir tiener- en jongmense se seksuele en reproduktiewe gesondheidsregte. Dit sluit die nasionale beleid vir seksuele, reproduktiewe en kindergesondheid in, terwyl hoofstuk 15 van die kindersorg- en beskermingswet MIV-toetsing vir kinders 14 jaar en ouer toelaat.

Volgens hom het Namibië merkwaardige vooruitgang gemaak op sy pad om moeder-tot-kind-oordrag (MTCT) van MIV uit te wis. In Mei vanjaar het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) ’n Vlak Silwer-status aan Namibië toegeken in die vermindering van MTCT van die Hepatitus B-virus en Vlak Brons vir MIV.

Tsehaiu het gemaan die kriminalisering en stigmatisering van groepe mense soos gay mans, transgender mense, sekswerkers en mense wat dwelms gebruik, ondermyn ook pogings om vigs uit te wis.

“Die terugslag teen regte wat dreig om al die vooruitgang in die globale vigsreaksie ongedaan te maak, moet direk en daadwerklik getakel word. Om almal se gesondheid te beskerm, moet ons elkeen se regte beskerm.”

Jongmense in Namibië tussen 15 tot 24 jaar word beduidend deur MIV geraak en is 2 100 (35%) van nuwe infeksies. Hiervan is 81% jong vroue.

Vigsverwante sterftes neem af, maar is steeds kommerwekkend met 3 700 sterftes in 2023, ’n afname van 33% in vigsverwante sterftes sedert 2010. Talle van dié sterftes word dikwels met tuberkulose-infeksies verbind. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!