Africure Pharmaceutical Namibia het die sentrale verkrygingsraad hof toe gesleep in 'n poging om die implementering van 'n tendertoekenning stop te sit. Foto Argief
Africure Pharmaceutical Namibia het die sentrale verkrygingsraad hof toe gesleep in 'n poging om die implementering van 'n tendertoekenning stop te sit. Foto Argief

Fokus val op mediese tender

Verskaffing van antiretrovirale produkte
Africure beweer daar is nie aan voorskrifte voldoen met betrekking tot voorkeure vir plaaslike vervaardigers nie en die Verkrygingsraad voer aan die maatskappy het 'n ander vervaardiger in tenderdokumente geïdentifiseer.
Kristien Kruger
Die toekenning van ’n tender vir die verskaffing van farmaseutiese produkte aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, is weer eens die fokus van ’n hofgeding.

Africure Pharmaceutical Namibia het onlangs ’n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak teen onder andere die voorsitter van die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië en die gesondheidsminister.

Africure doen aansoek vir ’n tussentydse interdik wat die voorsitter en die minister sal verbied om ’n tender met betrekking tot die verskaffing en aflewering van antiretrovirale (ARV)-produkte aan die ministerie, in werking te stel.

Indien die interdik toegestaan word, sal dit in werking tree hangende die uitkoms van ’n hersieningsaansoek waarin Africure die raad en ministerie se besluite met betrekking tot die betrokke tendertoekenning, uitdaag.

Africure voer aan die raad het nie voldoen aan die voorskrifte van voorkeure vir plaaslike vervaardigers nie en dat die tendertoekenning op grond daarvan hersien en tersydse gestel moet word.

Die Verkrygingsraad voer egter aan dat Africure in sy tenderdokumente ’n buitelandse maatskappy as die vervaardiger van die produkte geïdentifiseer het.

AGTERGROND

Die voorsitter van die raad van direkteure en aandeelhouer van Africure, Shapwa Tangeni Kanyama, sê in sy verklaring dat Africure ’n Namibiese geregistreerde maatskappy is, 100% in die besit van voorheen benadeelde Namibiese burgers.

“Africure het N$89 miljoen belê om ’n fabriek in Namibië op te rig. Die fabriek is gebou met die doel om farmaseutiese produkte, insluitend antiretrovirale produkte, te vervaardig.”

Die Verkrygingsraad het geen prysvoorkeur of plaaslike voorkeur ten opsigte van die plaaslike vervaardiger in sy tenderevaluering toegepas nie.

“Die applikant [Africure] is ’n plaaslike vervaardiger en is geregtig op sekere prysvoorkeure. Die verpligting op die Verkrygingsraad om die prysvoorkeure toe te pas, is ’n statutêre verpligting wat uit die Wet op Openbare Verkryging spruit,” lui Kanyama se verklaring.

Kanyama beweer Africure – as ’n plaaslike vervaardiger – kwalifiseer om vir prysvoorkeure uitgesonder te word in ooreenstemming met die opdrag wat die minister van finansies glo in Desember 2020 gegee het.

Kanyama voer aan die Verkrygingsraad moet ook aan hierdie voorskrifte voldoen.

“Ten tyde van die indiening van die applikant [Africure] se tender, was die raad onder ’n verpligting om aan die opdrag te voldoen en om die applikant te bevoordeel uit die voorkeure wat in die opdrag gestel is,” beweer Kanyama.

Volgens hom was die voorsitter van die Verkrygingsraad se besluit rakend die proses waarby die tender toegeken is, onredelik, irrasioneel en met die verontagsaming van die relevante voorskrifte gedoen.

BUITELANDSE VERSKAFFER

Hoewel Amon Ngavetene, die waarnemende voorsitter van die Verkrygingsraad, toegegee het dat Africure ’n tender ingedien het en wel ’n Namibiese geregistreerde maatskappy is, beweer hy dat Africure in sy tenderdokument hom as ’n “packer” geïdentifiseer het wat staatmaak op ’n buitelandse vervaardiger.

Dié buitelandse vervaardiger, beweer Ngavetene, is nie by die hofverrigtinge as ’n party ingesluit nie.

“In sy tenderdokumente het die applikant die sertifikaat voorgelê wat die invoer van medisyne en geskeduleerde middels magtig.”

“Die medisyneregistrasiesertifikaat vervat in die applikant se tenderdokument, identifiseer Mylan Laboratories, as die ‘vervaardiger’ van die produkte,” lui Ngavetene se verklaring.

Partye het gister voor regter Kobus Miller in die hoërhof in Windhoek verskyn.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!