FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Geestesgesondheid word ‘verwaarloos’

Belegging in voorsiening van dienste
Dit het die potensiaal om die vooruitgang uit te wis wat met die beskerming van gesondheids- en menseregte gemaak is.
Henriette Lamprecht
Die Covid-19-pandemie het die kwesbaarheid van talle gesondheidsorgstelsels in Afrika ontbloot en veral gapings in die bevordering en rehabilitasie van geestesgesondheid beklemtoon.

Dit is daarom noodsaaklik dat spesifieke aandag geskenk moet word op die verwaarloosde krisis van geestesgesondheid, sowel as huishoudelike en geslagsgebaseerde geweld.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het gemaan bogenoemde krisisse het die potensiaal om die vooruitgang uit te wis wat met die beskerming van gesondheids- en menseregte gemaak is.

Shangula het tydens die tweede gesamentlike kontinentale seminaar oor die reg tot gesondheid en maatskaplike beskerming in Afrika beklemtoon beleggings in die voorsiening en bevordering van geestesgesondheidsprogramme en -dienste moet verhoog word.

Shangula sê die reg tot maatskaplike beskerming en veiligheid is vasgelê in die Namibiese Grondwet wat die welstand van die land se burgers bevorder.

Die land het ook verskeie ingrypings en beleidsrigtings in plek om maatskaplike beskerming en maatskaplike veiligheidsnette vir inwoners te verseker.

Volgens die minister dek die stelsel, gedeeltelik en in sommige gevalle ten volle, ses uit die nege minimumstandaarde vir maatskaplike beskerming.

Die stelsels sluit onder meer die maatskaplike voorsorgfonds in wat verantwoordelik vir van pensioen- tot begrafnistoelae is.

Die Gesondheidswet van 2015 stipuleer die voorsiening van gesondheidsorgdienste in die openbare sowel as private sektor en volgens Shangula word dié dienste sonder enige diskriminasie aan alle inwoners voorsien.

“Hoewel ’n nominale fooi betaalbaar is, word inwoners wat dit nie kan bekostig nie, nie dienste geweier nie. Pensioenarisse, mense wat met gestremdhede saamleef en veterane van die vryheidstryd betaal nie die fooie nie,” het Shangula gesê.

Met verwysing na universele gesondheidsdekking (UHC) sê die minister het die kabinet die beleidsraamwerk hiervoor goedgekeur. Die hersiening van die noodsaaklike dienspakkette vir alle vlakke van gesondheidsorg het ook afgeskop.

Volgens Shangula word toegang tot gesondheidsdienste vir landelike en kwesbare gemeenskappe deur ’n netwerk van primêre gesondheidsorggeriewe voorsien. Gemeenskapsgebaseerde gesondheidswerkers is ook oraloor die land ontplooi om as ’n skakel tussen gemeenskappe en gesondheidsgeriewe te dien.

Teikenprogramme soos die vir tienermeisies en jong vroue, sowel as toegewyde gesondheidsklinieke in alle gevangenisse, verseker volgens die minister dat kwesbare en hoërisikobevolkings vir MIV/vigs toegang tot gesondheidsorg het.

In ’n poging om multi-dissiplinêre ingrypings in plek te stel, sê Shangula is met die opstel van die nasionale beleid vir ouer persone begin. Dit sal pensioenuitbetalings ondersteun in terme van die versterking van gesondheidsdienste en maatskaplike beskerming vir ouer persone.

Hy het ook verwys na die versnelde sosioëkonomiese ingrypingsprogram, die Harambee-welvaartsplan II, wat fokus op kwessies soos maatskaplike vooruitgang, gesondheid en ook die onderwyssektor.

Dit het ook ten doel om ingrypings te versterk wat gerig is op die skep van werksgeleenthede vir gemeenskappe en in veral jong mense, die verspreiding van rykdom en die uitbreiding van geleenthede tussen vroue en mans, lande en stedelike gebiede en verskillende groepe binne die bevolking.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer