Health on deathbed
Health on deathbed

Gesondheidstelsel op sy sterfbed

Langtermynverskaffer is ‘dringend nodig’
Daar is tans 'n dringende behoefte aan noodsaaklike medikasie soos adrenalien, antibiotika en morfien vir pasiënte wat terminaal siek is.
Yandi Du Plessis
Jemima Beukes – Kansellasies en hofgevegte wat die verkryging van farmaseutiese produkte vertraag het, het die plaaslike gesondheidsorgstelsel in ’n lewensgevaarlike krisis gedompel waar daar ’n dringende behoefte is aan noodsaaklikhede soos adrenalien, antibiotika en morfien vir pasiënte wat terminaal siek is.

Adrenalien word gebruik vir pasiënte met ernstige asemhalingsprobleme, insluitend asma, kroep en vir hartstilstand, terwyl kankerpasiënte meestal morfien ontvang.

Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, het gesê die situasie is so erg dat die ministerie tans besig is om die tesourier te nader vir ’n vrystelling om die nodige voorraad te koop.

“Soos sake nou staan, is die situasie benard en sal dit ons uiteindelik meer kos op ’n langtermyn-basis. Ons het dringend ’n langtermynverskaffer nodig wat ons in staat sal stel om vooruitskattings te doen en te bel wanneer ons voorraad benodig. Wanneer ons eenmalig op ’n korttermynbasis koop, is die pryse hoër, want mense weet nou jy werk op ’n noodbasis.”

Nangombe het vandeesweek gesê hulle moet nou noodgedwonge die ministerie op ’n “cuca-winkel-basis” bestuur weens die vertragings. “Dit het ’n aansienlike impak, aangesien ons nou kritieke voorrade moet bekom deur uit te gaan en kleiner hoeveelhede van plaaslike verskaffers te koop en ons drempel is slegs N$25 miljoen. Stel jou nou die tekort voor as ons voorraad van meer as N$100 miljoen benodig.”

Nangombe het gesê hulle benodig tans talle soorte medisyne, insluitend dié vir hipertensie, epilepsie, antibiotika vir kinders, en het bygevoeg hulle het meer as 1 000 soorte items nodig.

“Dit is voorrade wat ons nodig het in lewensreddende medikasie wat in teaters gebruik word. Stel jou voor jy moet teater toe gaan en daar is geen adrenalien nie. Hoe behandel ons die mense in ongelukke en diegene met erge pyn wanneer daar geen morfien is nie? Selfs die tender vir antiretrovirale behandeling (ARV)-medikasie word nou uitgedaag. Hoe sal ons die staatsgesondheidstelsel bestuur as dit die situasie is?” het Nangombe gevra.

Volgens hom het hulle markintelligensie begin insamel om by plaaslike maatskappye uit te vind hoeveel voorraad hulle het ingeval die ministerie dit benodig, maar aangesien die “ouens in die farmaseutiese bedryf mekaar ken”, word die regering dikwels misbruik.

Hy het bygevoeg hulle het selfs oorweeg om direk na die vervaardigers toe te gaan, maar aangesien Namibië se ekonomie ְ’n druppel in die globale emmer is, kan hy nie met groter lande meeding nie.

“Selfs met die internasionale bodproses wat oop is vir internasionale maatskappye, sal jy nie sien dat ’n produksiemaatskappy na die tafel toe kom nie weens die grootte van ons ekonomie,” het hy gesê.

SKARREL VIR TENDERS

Die tender vir farmaseutiese voorrade ter waarde van meer as ’n miljard, wat op 29 April 2022 deur die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) namens die ministerie geadverteer is, is nou op ys geplaas, aangesien tenderaars in ’n hofstryd gewikkel is.

Die sperdatum vir die indiening van tenders was op 8 November 2022 en op 26 April vanjaar het die CPBN die tenders aan verskeie tenderaars toegeken.

Cospharm Investments is egter aanvanklik gediskwalifiseer omdat daar na bewering ongerymdhede was op die vorms wat hy ingedien het.

Die maatskappy, wie se meerderheidsaandeelhouer ’n vyfjarige meisie is, het toe aansoek gedoen vir ’n hersiening van die proses en is toe N$1,5 miljard van die tender toegeken.

In die proses is Africure Pharmaceutical Namibia, wat deur Shapwa Kanyama besit word, se bod toe van sowat N$134 miljoen tot N$45,9 miljoen gesny.

Shapwa het die hoërhof genader vir ’n dringende interdik om die CPBN te keer om die toekenning aan Cospharm Investment te bekragtig, en beweer dat dit “onherstelbare finansiële skade” tot gevolg sou hê.

“Die mees kommerwekkende kwessie is die feit dat Cospharm en CPBN alleen betrokke was, geen ander partye is aangehaal in hierdie ondeursigtige heroorwegingsproses wat daartoe gelei het dat so ’n groot bedrag toegeken is nie. Africure [Shapwa] het ’n fabriek opgerig teen die koste van sowat N$90 miljoen wat farmaseutiese produkte vervaardig en het tot onlangs ARV-medikasie plaaslik vervaardig en dit aan die ministerie van gesondheid verskaf,” sê Shapwa in sy funderende verklaring.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!