Grootfontein tans sonder private hospitaal

Jaarlikse registrasiesertifikaat nie betyds hernu
Die meeste dokters op Grootfontein wat genader is, wou nie kommentaar oor die situasie lewer nie, uit vrees dat dit op onetiese gedrag sou neerkom.
Henriette Lamprecht,Elvira Hattingh
Henriette Lamprecht en Elvira Hattingh - Die Grootfontein Private Hospitaal kan tans geen dienste lewer nie, aangesien sy jaarlikse registrasiesertifikaat nie betyds hernu is nie.

Volgens die direkteur van gesondheid in die Otjozondjupastreek, mnr. Gebhardo Timotheus, het die hospitaal se lisensie reeds einde Junie verval. Die aansoek vir hernuwing is volgens hom eers op 14 Augustus ingedien.

Aansoekers word gewoonlik aangemoedig om reeds drie maande voor die vervaldatum met die hernuwingsproses te begin. Dit sluit in dat die streekkantoor van dié proses in kennis gestel word; inspekteurs uitgestuur en die nodige dokumente geëvalueer word; en die aansoek na die betrokke komitee in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste in Windhoek gestuur word.

Timotheus het by navraag gesê hy het geen gesag om aan te beveel dat die registrasie goedgekeur moet word nie.

“Dit is soos ’n rybewys. As jy dit nie hernu nie, kan jy nie bestuur nie. Sonder die sertifikaat mag en kan die hospitaal nie bedryf word of enige dienste lewer nie,” het hy gesê.

Die nodige dokumente word ná afloop van die nodige inspeksies na die hoof- omgewingsgesondheidsinspekteur en daarna na die betrokke komitee vir goedkeuring gestuur en moet deur die uitvoerende direkteur in die ministerie afgeteken word.

“Ons het simpatie met die situasie en die mense van Grootfontein. ’n Versoek is aan Windhoek gerig dat die proses bespoedig moet word.”

Intussen het ’n pasiënt, wat op voorwaarde van anonimiteit met Republikein gepraat het, gesê sy het onlangs by die werk inmekaar gesak.

Iemand het haar na die hospitaal geneem, maar sy is weggewys omdat die hospitaal haar nie kon opneem nie. Sy is gevra om eerder na die dorp se spreekkamers te gaan. Sy is ’n rukkie by die spreekkamer gehou, waarna sy huis toe gestuur is en gevra is om te bel as daar verdere probleme is.

Verskeie dokters op die dorp is gekontak, maar die meeste wou nie kommentaar lewer nie, uit vrees dat dit op onetiese gedrag sou neerkom. Die media is terug na die hospitaal se bestuur verwys.

“Dit frustreer ons so dat ons nie reguit kan kyk nie,” het een dokter opgemerk.

’n Ander dokter sê die feit dat die hospitaal tans nie pasiënte kan opneem nie, is ’n reuse-struikelblok.

“Daar is vir ons gesê die hospitaal sal na verwagting vir ’n week of twee toe wees.

“Ek moet nou kyk waar ek my pasiënte kan sien of ek moet hulle langer by my in die spreekkamer hou.

“Andersins moet ek my pasiënte in die staatshospitaal laat opneem of hulle na ander dorpe se hospitale stuur. Dit beteken ek sal hulle heeltemal aan ’n ander dokter moet oorhandig, of elke dag na naburige dorpe toe moet ry om hulle te besoek.

“Gelukkig was dit nog nie nodig in die tyd wat die hospitaal tans toe is nie, maar dit bly nietemin ’n frustrasie,” is gesê.

Me. Miena Simon, die hospitaal se bestuurder, het gistermiddag aangedui sy gaan vir eers nie kommentaar oor die saak lewer nie.

[email protected] en [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 27° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 35° Oshakati: 22° | 34° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 32° Omaruru: 18° | 34° Windhoek: 17° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 21° | 38° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 17° | 24° Mbabane: 14° | 25° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 18° | 29° Maputo: 19° | 31° Windhoek: 17° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 17° | 30° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 21° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!