Havana: ‘Ons is vergete, in die donker’

Geen water, behoorlike toiletgeriewe
Meer as tien maande nadat die konstruksie van 'n distrikshospitaal in die informele nedersetting met groot gejuig aangekondig is, het daar nog dadels van gekom.
Nikanor Nangolo
Nikanor Nangolo en Rita Kakelo – Sedert hy in Desember verlede jaar in ’n motorongeluk was, het die erge pyn in sy regterbeen dit vir hom moeilik gemaak om ’n inkomste te verdien deur sy passie vir verf.

Dit is weens die gebrekkige sorg wat hy ontvang het, volgens die 58-jarige Mathias Ndjundo.

Ndjundo wat ses jaar gelede van Walvisbaai na Windhoek verhuis het, sê hy ervaar erge pyn sedert die ongeluk. Hy was saam met die ander insittendes in ’n trompop botsing met ’n vragmotor betrokke.

“Vandat hulle my been in gips gesit het, het die dokter by die Katutura-staatshospitaal wat my ondersoek het, nooit X-strale van my been geneem om te bepaal hoekom die pyn so geweldig is nie.

“Toe hulle later die gips verwyder het, het ek steeds gesukkel om te staan en om my regterbeen te gebruik om behoorlik te kan loop,” sê Ndundo.

Toe X-strale uiteindelik geneem is, het die dokter ontdek dat sy been eintlik gebreek is.

“Ek het hom sedertdien gevra vir ’n ongeskiktheidsbrief omdat dit duidelik is dat ek myself nie kan help met al die pyn nie.”

“Hy het my uiteindelik gebel en belowe dat hy ’n brief sal skryf, maar tot op hede het ek nog niks ontvang nie.”

Ndjundo het ook teenoor die huidige regering uitgevaar en gesê inwoners in sy kiesafdeling, Samora Machel, word reeds vir jare afgeskeep ondanks die feit dat die meerderheid Swapo-ondersteuners is.

“Die meerderheid van die mense hier het vir die huidige en vorige administrateurs gestem, maar ons sit steeds sonder water. Al wat ons hoor is die regering wat praat oor skole, maar wat is skole sonder water?

“Die meerderheid Swapo-ondersteuners word deur armoede geteister en het geen werk, geen toegang tot water en geen ordentlike toiletgeriewe nie.

“Hulle maak nie eens die tyd om die mense op voetsoolvlak te gaan sien wat gehelp het om hulle in beheer te plaas nie.

“Ons word hier in die donker gelaat, letterlik, met seuns wat saans rondhardloop en mense se fone gryp,” sê Ndjundo.

Hy het ook kommer uitgespreek oor die vertraging in die konstruksie van die Windhoek-distrikshospitaal teen ’n koste van N$2,9 miljard in die informele nedersetting Havana wat in Mei verlede amptelik deur die voormalige minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, en die toe visepresident, Netumbo Nandi-Ndaitwah, van stapel gestuur is.

“Dis al meer as tien maande later en daar is nog geen vordering op die perseel gemaak nie. Ons besoek dit gereeld in afwagting van enige tipe vordering, maar daar is niks nie.

“Inwoners moet steeds tot by die Katutura-gesondheidsentrum gaan vir hulp, wat nie gerieflik is nie.”



SOOISPITSEREMONIE

Ndjundo se sentiment is deur nog ’n inwoner beaam wat anoniem wou bly en sê hy het self die sooispitseremonie bygewoon.

“Ons was almal so opgewonde om die sooispitseremonie van die nuwe distrikshospitaal te sien. Maande later is nog geen vordering gemaak nie.

“Dit is asof almal net stil geraak het ná die verkiesing. Dit voel eerlikwaar soos ’n politieke veldtog wat ons wou uitlok om vir die regerende party te stem,” het hy gesê.

Shangula het verlede jaar tydens die seremonie ontken dat die beplande konstruksie van die distrikshospitaal ’n veldtogfoefie van die Swapo-regering was.

Hy het bewerings ontken dat die hospitaal, wat na verwagting in 2027 voltooi sal wees, ’n veldtog deur Swapo is om stemme te werf in die aanloop tot verlede November se verkiesings.

Shangula het toe gesê die konstruksie van die hospitaal was reeds een van sy prioriteite toe hy in 2018 as die minister van gesondheid aangestel is.

Dié planne is egter in 2020 deur die Covid-19-pandemie gekortwiek.

“Die konstruksie van hierdie hospitaal kon baie vroeër begin het as dit nie vir Covid-19 was nie. Verstaan ons dus duidelik – dit is nie ’n verkiesingsfoefie nie,” het hy gesê.

In 2016 het ’n plaaslike dagblad berig dat die bouplanne vir byna 10 jaar vertraag is, weens uitdagings met die toekenning van grond.

Die ministerie was toe nog in gesprek met Stad Windhoek oor kwessies wat verband hou met die verskaffing van grootmaatdienste by die geïdentifiseerde grond in Havana. Volgens Shangula het die kabinet die konstruksie van die hospitaal eers in Mei 2023 goedgekeur.



PRESIDENT

Nandi-Ndaitwah het tydens die sooispitseremonie gesê die konstruksie van die hospitaal sal honderde werksgeleenthede skep.

Volgens haar het die betrokke kontrakteurs opdrag gekry om dit vir inwoners van Havana te prioritiseer.

“Dit sal ook goedkoper vir kontrakteurs wees, omdat die mense reeds hier bly,” het Nandi-Ndaitwah aan ’n ander dagblad gesê.

Nog ’n inwoner van die gebied het die gevare uitgesonder wat deur die voortgesette reënval veroorsaak word.

Sy sinkhuis, wat deur bakstene en plastiek geanker is om te keer dat dit wegwaai of dat die dak oplig, het verrassend genoeg nog nooit oorstroom nie ondanks die feit dat hy in ’n rivierbedding bly.

“Dis reeds April en die reën het nog nie opgehou nie,” het hy gesê.

Hy het by die regering gepleit om in te gryp, aangesien talle inwoners erge verliese gedurende die reënseisoen ervaar.

“Mense se beddens was deurdrenk, kos is vernietig en belangrike dokumentasie soos identifikasie is weg.

“Hulle kom net hier wanneer hulle veldtogte vir verkiesings doen. Daarna is dit asof ons nie bestaan nie,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer