Ter illustrasie. FOTO ARGIEF
Ter illustrasie. FOTO ARGIEF

Hepatitis E nie meer ’n uitbreking

Sterftes meestal onder swanger vroue
Gevalle het beduidend sedert die laaste kwartaal van 2020 in alle streke afgeneem
Henriette Lamprecht
Vier jaar nadat ’n uitbreking van hepatitis E in Namibië verklaar is, het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste aangekondig dit is amptelik verby.

Volgens die gesondheidsminister, dr. Kalumbi Shangula, wys die siekte se epidemiologiese kurwe in Namibië dat gevalle van die siekte deurgaans afgeneem het.

“Gevalle het beduidend sedert die laaste kwartaal van 2020 in alle streke afgeneem,” het hy gesê.

’n Uitbreking van die siekte is op 14 Desember 2017 verklaar. Teen 4 Februarie vanjaar is 8 092 gevalle aangemeld, terwyl 66 sterftes, meestal onder swanger vroue, aangeteken is.

Die sterftes onder swanger vroue verteenwoordig 41% van die totale hepatitis E-sterftes. In 2020 is vier sterftes aangeteken, waarvan twee dié van swanger vroue was. Die eerste een was in Februarie en die laaste een in September 2020.

Volgens Shangula is die laaste paar gevalle in die distrikte van Windhoek, Walvisbaai en Okahao aangemeld. Die minister sê vir endemiese toestande eindig ’n uitbreking wanneer die aantal nuwe aangemelde gevalle daal tot die getalle wat oorspronklik verwag is.

In die laaste 20 weke wat gelykstaande is aan dubbel die inkubasietydperk van die virus, het 33 gevalle tekens van akute geelsugsindroom getoon. Die vermoede was dat nege hepatitis E gehad het. Ses het simptome binne die laaste 20 weke ontwikkel. Drie was van Windhoek en een elk van Walvisbaai, Usakos en Okahao.

“Nie een van die gevalle is deur ’n laboratorium bevestig of epidemiologies met mekaar verbind nie,” het Shangula gesê.

Hy het beklemtoon hepatitis E bly op die ministerie se toesigstelsel wat in ’n staat van verhoogde waaksaamheid bly om enige verhoging in die aantal gevalle oraloor die land op te tel.

Shangula sê enige nuwe gevalle sal “dadelik en deeglik” ondersoek word om in pas met die voorskrifte van openbare gesondheid te reageer.

Om steeds ’n vinger op die pols te bly hou, sal sekere distrikte steeds volgens ’n tydlyn enige veranderings en indien wel, nuwe gevalle rapporteer.

Die siekte bly ook deel van die weeklikse geïntegreerde opsporings- en reaksiestelsel vir alle gesondheidsdistrikte in die land.

Die minister het weer Namibië se goeie rekord in die uitwissing van uitbrekings beklemtoon waaronder Kongokoors en polio.

“Ons het polio ’n dekade gelede deur massa-inenting in Namibië uitgewis. Ons kan dieselfde met Covid-19 doen. Vertrou jou regering. Kom ons laat ons inent om Namibië na normaal te laat terugkeer.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!