Die goewerneur van die Ohangwenastreek, Sebastian Ndeitunga. Foto argief
Die goewerneur van die Ohangwenastreek, Sebastian Ndeitunga. Foto argief

Hongerte bly Ohangwena teister

Meer as 48 000 huishoudings benodig voedselhulp
Meer as 300 pasiënte is geregistreer vir 'n spesiale program om wanvoeding in die streek te bestuur.
Tuyeimo Haidula
Dringende maatreëls is ingestel in reaksie op toenemende voorvalle van wanvoeding en sterftes weens hongerte in die Ohangwenastreek.

Dié streek se goewerneur, Sebastian Ndeitunga, het dit vandeesweek bevestig. Dit volg nadat 94 sterftes weens wanvoeding tussen 2022 en 2024 in die streek aangeteken is.

Agtien sterftes is weens wanvoeding in 2024 in die streek aangemeld; van die 18 sterfgevalle was vier volwassenes en 14 kinders.

Ndeitunga het Maandag gesê wanvoeding hou verband met kwessies soos voedselonsekerheid weens armoede, wat op sy beurt weer aan hoë werkloosheidsyfers gekoppel word. Natuurrampe soos droogtes en vloede speel ook ’n rol.

Die Ohangwena-streekraad het ’n opname in 2023 gedoen en ’n lys van huishoudings in al 12 kiesafdelings saamgestel wat diegene identifiseer wat dringende voedselbystand benodig. Altesaam 48 761 huishoudings is geïdentifiseer.

“Dit is duidelik dat hierdie getal mettertyd toegeneem het, veral in 2024 as gevolg van lae reënval,” het Ndeitunga gesê.

Hy het bygevoeg die streekraad oorweeg dit om in gevalle van wanvoeding individue van verdere voedselhulp te voorsien sodra hulle uit die hospitaal ontslaan word

Die voormalige polisiehoof het gesê ander faktore wat bydra tot ’n swak dieet, sluit onverantwoordelike ouers in wat baie tyd in sjebeens deurbring en hul plig om vir hul kinders te sorg, nalaat. Ander faktore sluit glo lae gesondheidsgeletterdheid en die teenwoordigheid van siektes soos wurmbesmettings, diarree, malaria en masels in.



STAPPE

Ndeitunga het Maandag tydens ’n ontleding van die voedingsverslag by die streekkantoor gesê 332 pasiënte is geregistreer vir ’n spesiale program om wanvoeding in die streek te bestuur, met die meerderheid in die Eenhana- en Engela-distrikte.

Hy het gesê die program vir voedingsontleding, berading en ondersteuning (NACS) is versterk om wanvoeding by kinders, swanger vroue en ná die geboorte sowel as volwassenes en adolessente wat met MIV en TB leef, te bestuur.

Ndeitunga het verduidelik die program is oraloor die streek geïmplementeer, wat voedingsverwante dienste by gesondheidsgeriewe verskaf.

NACS-dienste sluit in onderrig oor gesondheid, bevordering van borsvoeding, die monitering van kinders onder vyf, ontwurmingsveldtogte, vitamien A-aanvulling en behandeling van kwale wat tot wanvoeding kan lei.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer