FOTO ARGIEF, ter illustrasie
FOTO ARGIEF, ter illustrasie

Inentingskaart gee toegang

Oningeëntes moet negatiewe toetsuitslag toon
Inentingsertifikate en negatiewe PCR-toetsuitslae is die vereistes vir toegang tot die meeste SADC-lande.
Henriette Lamprecht
Verskeie lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) het hul vereistes vir toegang tot onderskeie lande in pas met Covid-19-regulasies verslap.

Besoekers aan Namibië wat ten volle ingeënt is, hoef nie meer ’n negatiewe PCR-toetsuitslag by grensposte te toon nie, maar net hul inentingskaart.

Volgens die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste is ’n persoon wat as ten volle ingeënt beskou word, iemand wat 14 dae voor sy aankoms in Namibië twee dosisse van ’n twee-dosis-behandeling byvoorbeeld AstraZeneca of een van ’n een-dosis-behandeling soos Johnson & Johnson ontvang het.

Skragingsdosisse is nie ’n vereiste om die land binne te kom nie. Bogenoemde geld vir volwassenes, sowel as kinders en tieners ouer as 12 jaar. Kinders vyf jaar en ouer moet ’n negatiewe PCR-toetsuitslag toon. Die inentingskaart en negatiewe toetsuitslag geld nie vir kinders jonger as vyf jaar nie.

BOTSWANA

Waar skragingsdosisse op die inentingskaart aanvanklik vereis was vir toegang tot Botswana en om as volledig ingeënt beskou te word, is dit nou nie meer nodig nie.

Volgens dié land en soos in Namibië is die voltooiing van die primêre reeks inentings voldoende om toegelaat te word met ’n inentingskaart, sonder dat ’n negatiewe toetsuitslag getoon hoef te word.

Persone wat gedeeltelik of glad nie ingeënt is nie, moet ’n negatiewe PCR-toetsuitslag nie ouer nie as 72 uur kan toon en ook teen eie koste by die betrokke grenspos vir Covid-19 getoets word. ’n Negatiewe toetsuitslag beteken toestemming om verder te reis, maar indien die persoon positief toets, moet hulle in die distrik van die betrokke grenspos op eie koste isoleer totdat hulle herstel het.

Volgens Botswana se ministerie van gesondheid akkommodeer dié veranderinge nou mense wat gedeeltelik of glad nie ingeënt is nie, om die land binne te kom, sou hulle aan die toetsvereistes voldoen.

’n Persoon wat nie ingeënt is nie en ook nie gewillig is om vir ’n Covid-19-toets by die betrokke grenspos te gaan nie, sal aangekla, beboet of hof toe geneem word.

Vir buurland Suid-Afrika moet besoekers bewys van inenting of ’n negatiewe toets nie ouer as 72 uur toon sou hulle nie gedeeltelik of glad nie ingeënt is nie. Dié reëling geld vir alle reisigers ouer as vyf jaar. Kinders jonger as vyf jaar kan die land sonder ’n PCR-toetsuitslag of inentingsertifikaat binnekom.

ANGOLA

Binnekoms van Angola is onderhewig aan ’n negatiewe PCR-toetsuitslag en ’n inentingskaart. Dié vereiste geld ook wanneer die persoon die land wil verlaat.

Kitstoetse word by lughawens uitgevoer vir almal wat die land binnekom en op die besoeker se koste. Indien die toets positief is, moet die persoon kwarantyn totdat hy negatief toets. Volgens dié land sal owerhede besluit of dit by ’n staatsinstelling of tuis is.

Persone wat ten volle ingeënt is, hoef nie te kwarantyn as die blitstoets by die lughawe negatief is nie.

Alle internasionale besoekers moet vir minstens sewe dae in kwarantyn gaan. Dit word slegs opgehef wanneer ’n ontslagsertifikaat deur die gesondheidsowerhede en ná ’n negatiewe PCR-toetsuitslag uitgereik is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer