Tsumkwe
Tsumkwe

Inwoners loop deur onder gesondheidsprobleme

Stukke karton as papier gebruik
Inwoners moet hul eie papier verskaf aangesien daar geen gesondheidskaarte beskikbaar is nie.
Jemima Beukes
Verskeie uitdagings staar die inwoners van Tsumkwe in die gesig met toegang tot gehalte-gesondheidsorg.

Sommige sê gesondheidsdienste word van hulle weerhou omdat hulle nie gesondheidskaarte het nie. In sommige gevalle moes inwoners uit noodweer stukke karton vir verpleegsters gee om as hul kaarte te gebruik.

’n Inwoner van die Routpos in die Nyae Nyae-bewaringsgebied, Kxao Kxoan, sê weens die struikelblokke wat hulle ervaar, besoek gemeenskapslede nie die kliniek nie selfs wanneer hulle ernstige kwale het.

Terwyl hy namens sy skoonsuster tolk, sê Kxao toe sy geboorte geskenk het, het sy na die kliniek gegaan om medisyne vir haar baba te kry. Sy is egter weggewys omdat sy nie ’n gesondheidskaart het nie.

“Daardie papiere is nou vol. Sy moet nou ’n ander papier gaan soek, sodat hulle weer kan skryf, maar ons het nie een nie. Sommige kere skeer ons ’n stuk karton af sodat hulle vir ons medisyne kan gee,” het hy gesê.

Xao Cwi, ’n gemeenskapslid met tuberkulose (TB), sê hy is al drie keer ’n houer vir sy spoeg gegee, maar moes dit elke keer weggooi omdat personeel by die kliniek nie beskikbaar was nie.

“Hulle kom net vir swanger vroue wat geboorte moet skenk. Daar is dae wanneer hulle sê hulle gaan kom en ons moet die kinders na die kliniek toe bring, maar dan kom hulle nie.

“Hulle sê vir ons die kind mag nie eet tot hulle daar is nie, maar teen die middag wanneer hulle nog nie opgedaag het nie, kry jy jou kind jammer wat honger is en huil,” verduidelik hy.

Fritz Nuxab wat met psioriase gediagnoseer is en wie se lyf met jeukerige en pynlike rowe bedek is, kla oor die feit dat hy sy opvolgbesoeke misloop omdat die ambulans hom nie kom optel nie.

Een van sy voete het sere op wat dit vir hom uiters moeilik maak om te loop en ook na die kliniek te ryloop.

Hy bly in ’n hut sonder ’n vloer en slaap op die sand wat sy gesondheidstoestand vererger.

Die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, Ben Nangombe, sê hy sal by die gesondheidsdirektoraat in die streek moet opvolg waarom daar geen gesondheidskaarte beskikbaar is nie.

“Dis ’n kwessie wat ek met die plaaslike owerhede in die streek moet bespreek om uit te vind waarom dit so is. Selfs al is dit so, moet daar ’n oplossing wees.

“Ons doen uitreike en ons moet uitvind of daar geen uitreike was nie en waarom ’n probleem soos diè voortduur.

“Uitreike is ontwerp vir gevalle soos die psioriase-geval. Dis ’n kwessie van of die gesondheidswerkers vervoerprobleme het,” het Nangombe gesê.

Volgens hom is pasiënte weens ’n semi-nomadiese leefstyl nie altyd in dieselfde liggings nie. Dieselfde mense is egter op dieselfde plek ná ’n besoek in Januarie aan Tsumkwe gevind.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!