'Jy wens jou kind sterf in haar slaap'
Korrekte medikasie, behandeling buite bereik van duisende
Droë krane, personeel wat saans met hul selfone as enigste lig medikasie moet uitdeel en 'n tekort aan kalmeermiddels is maar van die probleme wat die staat se sentrum vir geestesongesteldheid in die Windhoek Sentrale Hospitaal teister.
Henriette Lamprecht – Sy het in ’n stadium gewens haar kind gaan dood in haar slaap.
Dit nadat sy vir die 18de keer binne maande weens selfbeserings in die hospitaal beland het. Verskeie van dié besoeke was aan ’n staatshospitaal omdat die jaarlikse mediesefondsvoordele vir psigiatrie reeds binne twee weke uitgeput was.
Sy kan nie onthou wanneer laas sy meer as drie ure ononderbroke geslaap het nie, sê die vrou.
“Ek weet nie wanneer sy iets aan haarself gaan doen nie. As sy te lank stil raak, gaan kyk ek of sy nog by is.”
Ná die laaste voorvalle moes haar dogter, wat op 17 met bipolêre gemoedsteurnis gediagnoseer is, twee operasies ondergaan weens selfbesering.
Haar “vrolike, liefdevolle sonneblomkind” is van nature ’n uiters sensitiewe introvert wat nie maklik vriende maak nie. Sy is onder meer gek oor diere en om mense te help.
“Met haar laaste hospitaalverblyf het sy haar duvet by ongevalle vir ’n man gegee wat geen beddegoed gehad het nie.”
Maande voor haar dogter se diagnose met bipolêre gemoedsteurnis, het erge krake reeds begin wys.
Sielkundiges en dokters in Windhoek het probeer help en ’n besoek aan ’n familielid in Suid-Afrika is aanbeveel. Haar dogter se gemoedstoestand het egter binne twee dae so versleg dat sy in ’n neurokliniek opgeneem is waar sy vir drie weke behandel is. Dit sou daarna aan die lig kom dat die familielid haar oor etlike jare fisiek en emosioneel mishandel het, maar sy was te bang om dit vir iemand te sê.
’n Psigiater het ses soorte medikasie voorgeskryf en haar dogter het stadigaan weer kans vir die lewe gesien, al het die pille haar “dof en afgestomp” laat voel.
Verlede jaar is haar dogter gemolesteer wat haar oor die afgrond gestuur en sy uiteindelik ná nog ’n selfbesering in die sorgsentrum vir geestesgesondheid in die Windhoek Sentrale Hospitaal beland het. Dié is saam met die eenheid by die Oshakati-staatshospitaal die enigste twee staatsentrums vir Namibiërs met geestesongesteldhede.
Hier is sy gediagnoseer met posttraumatiese stressteurnis, angsteurnis, bipolêre gemoedsteurnis II en grenslyn-persoonlikheidsteurnis (BPD). Dit is ook hier waar sy met die hulp van dr. Hileni Ndjaba, ’n psigiater, me. Esther Awuku (sielkundige) en ook verpleegpersoneel tekens van herstel begin toon het.
“Uiteindelik het sy ’n fantastiese psigiater wat werklik omgee en nie net handevol pille voorskryf voor behoorlike assesserings nie.”
Hoewel haar dogter vir ’n onbepaalde tydperk intensiewe psigoterapie moet ontvang, kan sy egter net twee weke in die sentrum bly.
Sodra ’n pasiënt tekens van herstel toon, moet daar plek gemaak word vir ander, erger gevalle.
Dié eenheid het die afgelope maand die nuus gehaal nadat ’n psigotiese pasiënt ’n ander pasiënt vermoor het deur hom te verwurg.
Parlementslid vir die Popular Democratic Movement (PDM), me. Winnie Rauha Moongo, het die afgelope week in die parlement ’n donker prentjie geskets van waterlekke in die sentrum se badkamers, met van die krane wat nie eens meer oopdraai nie. Tussen 19:00 en 20:00 saans moet verpleegsters weens ’n gebrek aan werkende ligte in die donker en met die lig van hul selfone medikasie aan pasiënte uitdeel.
Beddens is dikwels sonder matrasse en die sentrum het net 48 beddens wat maak dat pasiënte soms noodgedwonge op die vloer moet slaap.
Saal 16 by die Oshakati-staatshospitaal bedien drie noordelike streke en pasiënte wat kom vir rehabilitasie, moet dikwels, net soos in Windhoek, kamers met psigotiese pasiënte deel. Ernstige tekorte aan medikasie heers ook hier en sluit in kalmeermiddels, sowel as medikasie om newe-effekte van psigotropiese medikasie te onderdruk. Sekuriteitsbeamptes is net daar om die regering se eiendom te beveilig en bied geen beskerming aan dié wat daagliks met psigotiese pasiënte moet werk nie.
“Soveel mense in die land kan dit nie bekostig om die korrekte behandeling en medikasie te kry nie. Privaat sentrums is onbekostigbaar. Daar is nie instansies wat ’n permanente heenkome bied nie.”
Haar dogter moet in ’n omgewing bly waar sy behoorlik kan funksioneer en versorg kan word. Tussen mense soos sy.
“Hulle kan nie lewenslank medikasie ingegee en tussen vier mure aangehou word nie. Dis die hel.”
Haar voorstel is eenvoudige geriewe op ’n paar hektaar waar mense soos haar dogter van vakmanskappe kan doen en tot groente kan kweek vir selfverbruik en verkoop, met afgetrede mediese praktisyns wat medikasie beheer en toedien.
“’n Plek waar hulle mekaar ondersteun, veilig voel en nie veroordeel word nie.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie