Katte word beheer by Oshakati-hospitaal

Tanja Bause
Sestig wilde katte wat by die Oshakati Intermediêre Hospitaal woon is reeds vanjaar gesteriliseer, gekastreer, ontwurm en ingeënt.

Dit met die hulp van die veeartse drs. Alfeus Iyambo en Herman Nelson van die NHA Veterinary Clinic in samewerking met die Have-a-Heart-stigting en die Oshana Dierebeskermingsvereniging.

In Oktober vanjaar is 26 katte onder die Universiteit van Namibië (Unam) se OneHealth-projek gevang. Drie van hulle was reeds reggemaak en is dus net behandel.

Pasiënte het gekla oor die wilde katte wat veral in die hospitaal se kraamsaal rondloop en hulle terroriseer.

“Ons besef die katte hoort nie binne ’n hospitaal nie, maar die situasie het nie ontstaan weens ’n spesiale ras ‘terroriskatte’ nie, maar omdat mense in hul pligte misluk het,” het Geesche Neuburg van Have-a-Heart gesê.

Unam het as deel van sy korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid onder leiding van die universiteit se skool vir veeartsenykunde onlangs die Unam Cares se One Health Community Education-kliniek vir pandemievoorkoming by die hospitaal op die been gebring.

Dr. Yvonne Hemberger, ’n senior lektor in veterinêre openbare gesondheid en departementshoof in parakliniese studies by Unam, het gesê wilde katte woon by verskeie instansies, soos onder meer hospitale, tronke, universiteite, skole en koshuise.

“Hulle moet menslik bestuur word deur gebruik te maak van konvensionele beheertegnieke.”

Volgens haar is meeste van die metodes wat gebruik word om hulle te beheer, onmenslik en teen dierewelsynriglyne.

“Stedelike wilde katte het ’n nuttige funksie in die beheer van peste soos rotte, muise, kakkerlakke, duiwe en slange. Wilde katte help met siektebeheer en daarom het hulle ’n nuttige funksie in openbare gesondheid.”

Dr. Rachel Freeman, die hoof van Unam Cares en senior lektor in maatskaplike werke, het beklemtoon die doel van Unam Cares se One Health-projek sluit onder andere die bevordering van die welsyn van wilde katte en behoorlike afvalbeheermaatreëls by die hospitaal in.

WILDE KATTE

Die hospitaal se bestuur het voorheen probeer om die katte te verwyder deur hulle te vang en op ’n ander plek vry te laat.

“Dit het nie gewerk nie. Sodra jy een groep katte verwyder, trek ’n ander groep in hulle plek in. Die katte moes bly, maar hulle moes almal reggemaak en ingeënt word. Hulle gesondheidstatus moet gemonitor word en deur hulle gereeld kos en skoon water buite die hospitaal te gee bly hulle buite die hospitaal. Die nuwe hospitaalbestuur is gereed om die beste oplossing te vind en die volhoubare roete te volg,” het Neuburg gesê.

Volgens Iyambo is Unam, Have-a-Heart, die Oshana Dierebeskermingsvereniging, die NHA Veterinary Clinic en die hospitaal se bestuur besig om oplossings te vind deur water en kos buite die hospitaal te los om die katte buite die hospitaal te hou.

“Ons almal is ook besig om maniere te vind om die afval beter te bestuur, want dit is ’n groot probleem by die hospitaal. Die afval lok die katte, maar hulle is ook nodig om peste en slange te beheer,” het hy gesê.

AFVALBESTUUR

Die span wat bestaan uit Unam, die Namibian Agronomic Board, die Oshana Dierebeskermingsvereniging, die direktoraat van veeartsenydienste in Oshakati, die Oshakati-dorpsraad, Have-a-Heart en die Wapa Nawa Recycling Center het ontdek dat die wilde katte in die kraamsaal en by die verbrandingsoond slegs die punt van die ysberg was, terwyl ’n swak afvalbestuurstelsel die kernprobleem is.

Die span het bevind die ontwikkeling van standaard-operasieprosedures oor afvalbestuur en van departementele afvalbestuursplanne is van kardinale belang, asook om ordentlike moniteringstelsels in plek te hê vir behoorlike voedselhantering en berging in die sale en gereelde instandhoudingsinspeksies oor die funksionaliteit van die verbrandingsoond.

“Wanneer daar geen kosreste toeganklik is vir katte, muise en rotte nie, sal hulle weggaan omdat hulle op soek is na kos. Sit kos en water buite die hospitaal neer en hulle sal nie kos kom soek omdat hulle honger is nie,” het Neuburg gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!