Gesondheidsminister Kalumbi Shangula tydens die amptelike opening van die dialise-eenheid by die Katutura-hospitaal. Foto verskaf
Gesondheidsminister Kalumbi Shangula tydens die amptelike opening van die dialise-eenheid by die Katutura-hospitaal. Foto verskaf

Katutura-hospitaal open amptelik sy dialise-eenheid

Elizabeth Kheibes
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het gister amptelik ’n nuwe dialise-eenheid ter waarde van N$16,5 miljoen by die Katutura-staatshospitaal geopen.

Die gesondheidsminister Kalumbi Shangula het tydens die geleentheid gesê die ministerie het tydens Covid-19 ’n saal met 96 beddens opgerig om meer beddens vir pasiënte te bied.

Dit is juis deel van dié gebou wat nou in ’n saal met 16-beddens, as ’n hemodialise-eenheid, omskep is.

“Die personeel se opleiding in die gebruik van die hemodialisemasjiene is op 17 Julie 2024 voltooi en die eerste pasiënt het dieselfde dag dialise ontvang.

“Die totale belegging beloop N$16,5 miljoen. Altesaam N$2,9 miljoen vir die gebou, N$6,8 miljoen vir toerusting, N$2 miljoen vir waterbehandeling en N$4,8 miljoen vir stoele,” het hy gesê.

Shangula het gesê sedert hy die pos as minister van gesondheid beklee het, het hy besef die aantal pasiënte wat van dialise afhanklik is, het toegeneem, maar dat dialisedienste egter net beskikbaar was vir pasiënte wat behandeling in intensiewesorgeenhede (ICU) ontvang by Oshakati en Rundu se intermediêre hospitale, asook die Windhoek Sentrale Hospitaal.

“Die Oshakati Intermediêre Hospitaal het vyf hemodialisemasjiene gehad, Windhoek Sentraal sewe, terwyl Rundu net twee gehad het.”

Agtien maande gelede het die ministerie besluit om ’n dialiseprogram in sewe strategiese hospitale te vestig om omvattende moderne, funksionele en chroniese dialise-eenhede by hierdie fasiliteite op te rig.

As deel van hierdie program sal Oshakati en Katutura se intermediêre hospitale elk met 16 masjiene toegerus word; Rundu met agt; asook die distrikshospitale op Katima Mulilo, Walvisbaai en Otjiwarongo met ses elk, en vyf vir Keetmanshoop.



TROTS

Shangula het gesê die eenheid het sedert Julie 118 sessies aangebied, waartydens 31 pasiënte dialise ontvang het. Dit is ten volle funksioneel met drie inwonende verpleegkundiges, sewe dialise-verpleegkundiges en drie inwonende nefroloë.

“As die minister van gesondheid en maatskaplike dienste is ek trots om die verwesenliking van hierdie visie te aanskou.

“Ek is vol vertroue dat die impak daarvan groot sal wees. Dit sal duisende mense raak wie se gesondheid afhanklik is van dialisebehandeling.

“Dit bewys ons onwrikbare vasberadenheid om gesondheidsorgdienste landswyd uit te brei en te verbeter,” het hy gesê.

Volgens die minister het die kabinet ’n begroting goedgekeur om die lewering van openbare gesondheidsdienste in die land te versterk en te verbeter.

“Die plan sal oor vyf jaar geïmplementeer word en behels meer as N$16 miljard en verskillende areas van dienslewering.

“Dit sluit die modernisering van infrastruktuur in en die verkryging van items soos ambulanse, mediese toerusting en werwing van personeel.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer