Kinders reeds voor geboorte ‘besoedel’

90% van wêreld se jeug asem giftige lug in
Giftige lug en besmette water en grond is nie net 'n eksistensiële bedreiging vir menslike gesondheid nie, maar ook dié van die planeet.
Henriette Lamprecht
Die meeste van die wêreld se kinders word vandag “besoedel” gebore en word reeds in die baarmoeder met verskeie skadelike chemikalieë besmet.

Jaarliks is besoedeling en giftige stowwe verantwoordelik vir meer as 1,7 miljoen voortydige sterftes onder kinders onder die ouderdom van vyf en asem 90% van die wêreld se kinders daagliks giftige lug in.

Die verslag, A Healthy Planet for Healthy Children, maan giftige lug en besmette water en grond is nie net ’n eksistensiële bedreiging vir menslike gesondheid in die algemeen nie, maar bedreig ook die planeet se gesondheid en stel sodoende die volhoubaarheid van modern gemeenskappe in gedrang.

Volgens die verslag wat die Wêreld Toekomsraad (WFC) en die Verenigde Nasies se Instituut vir Opleiding en Navorsing (Unitar) saamgestel het, het 600 000 kinders in 2016 aan akute lugweginfeksies gesterf.

Dit verwys na buitensporige vlakke van arseen in sommige dele van die Europese streek wat met negatiewe gesondheidsuitkomste verbind word en wat insluit hartsiektes, kanker en diabetes.

Ontvouende bewyse toon ook die negatiewe impak op die ontwikkeling van fetusse en babas. Vergiftiging as gevolg van plaagdoders het wêreldwyd toegeneem van 25 miljoen in 1990 tot 385 miljoen vandag.

Volgens die verslag sal ’n afname van globale kwik-uitlaatgasse met 50% die blootstelling aan swanger vroue en kinders voorkom en lei tot globale ekonomiese voordele van US$2,2 miljard. ’n Miljoen kinders tussen die ouderdomme van vyf en 17 jaar is betrokke by kleinskaalse myne en steengroewe wat onder meer die ontginning van goud deur die gebruik van kwik insluit.

Dit maan chemikalieë wat endokriene ontwrig, verteenwoordig ’n ontvouende globale gesondheidsprobleem en beïnvloed die gesondheid van die endokriene stelsel in kinders. Die impak sluit in newe-effekte in groei, metabolisme, seksuele ontwikkeling en voortplanting. Vroeë voorgeboortelike blootstelling aan vermoedelike endokrien-ontwrigters hou verband met ’n laer intelligensie in kinders.

In die afgelope 50 jaar het die voorkoms van leukemie en breingewasse onder kinders met meer as 40% gestyg, met sowat 400 000 kinders wat jaarliks kanker ontwikkel. In Amerika is die vlakke van arseen, kadmium en lood in babakosse vyf tot 177 keer hoër as die toegelate vlakke. Blootstelling aan lood veroorsaak 143 000 sterfgevalle en 600 000 gevalle van intellektuele gestremdheid in kinders elke jaar.

Speelgoed en ander produkte wat spesifiek op kinders gemik is, is volgens die verslag een kategorie van ’n baie groter stel verbruikersprodukte wat babas en kinders aan giftige chemikalieë blootstel. Dié produkte sluit in produkte vir persoonlike versorging, meubels en voedselhouers.

“Onrusbarende vlakke van sommige van die mees giftige chemikalieë soos bromium, ’n giftige rooibruin vloeistof wat in dioksiene en vlamvertragers voorkom, is byvoorbeeld onlangs gevind in verbruikersprodukte wat van herwonne plastiek gemaak is (insluitend kinderspeelgoed).”

Dié giftige chemikalieë kan ’n invloed op ’n kind se gesondheid, ontwikkeling en welstand hê. Sommige het ’n ernstige uitwerking op hormoon-, reproduktiewe en immuunstelsels, sowel as op die lewer en niere.

Die rede waarom speelgoed en ander produkte giftige chemikalieë bevat is grootliks te danke aan ’n gebrek aan regulasies en die feit dat vervaardigers nie bestaande regulasies nakom nie.

’n Belangrike stap sal daarom wees om nasionale en streekregulasies vir chemikalieë op te skerp. Dit kan gedoen word deur alle bestanddele openbaar te maak en etikette vir gesondheidsheidswaarskuwings op verbruikersprodukte verpligtend te maak om die veiligheid van produkte te verseker en kliënte te beskerm.

Talle lae- en middelinkomstelande staar ook openbare gesondheidsuitdagings in die gesig met betrekking tot die onvanpaste bestuur en weggooi van mediese afval, wat dikwels gemeng word met algemene huishoudelike afval en/of in munisipale stortingsterreine of onwettig gestort word.

“Tree op asof miljoene kinders se lewens op die spel is – want dit is.” Die verslag stel voor reëls en regulasies word opgestel wat erken elke kind word aan meer as een chemikalieë op ’n slag blootgestel. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!